Beskerming

Ek ry nou die dag in die straat af en sien die hoë heining en diefwering by al die huise. Dis nogal erg hoe ons, ons huise en eiendom beveilig. Dis reg, ons moet dit doen, want ons is Rentmeesters van dit wat God ons hier op aarde geskenk het. Ek wonder net of ons, ons harte en gedagtes ook so beveilig.

Die gesegde lui: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor”. Waarvan is jou hart vol? Hoe beskerm jy jou hart teen die aanval van die bose? Wat gaan in jou gedagtes aan?  Die Woord leer ons dat God ons gedagtes ken. Psalm 94:11 “Die Here ken die gedagtes van die mens.”

Esegiël 11:19 “Ek self sal vir hulle ‘n ander hart gee en ‘n nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die klip hart uit hul liggaam verwyder en hul ‘n hart van vleis gee”.

Wat kyk ek en jy op die televisie en watter boodskappe stuur en kry jy op jou selfoon en rekenaar?  Hoe beskerm ek my hart en gedagtes daarteen? Deur dit te rig op God en dit wat Hy vir my beplan. Trek die wapenrusting van God soos in Efesiërs 6 aan en doen dit wat God deur Sy Woord vir jou sê.

Laat die Gees jou gedagtes gevange neem. As jy voel die verkeerde gedagtes wil by jou opkom, vra God om jou gedagtes op Hom en die dinge daarbo te rig.  1 Korintiërs 10:5b “Ons neem elke gedagte gevange om dit aan God gehoorsaam te maak.”

As jou hart swaar en soms ook swart voel, vra God om vir jou ‘n rein hart te skep. ‘n Hart wat vol van Hom is.

Tessalonisense 4:3a “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.” In Tess 4:7 (NLV) “God het ons mos nie geroep om onrein te lewe nie.” Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom te wy. Tess 4:11 “Laat dit vir julle ‘n saak van eer wees om rustig te lewe, met julle eie sake besig te wees en met julle eie hande te werk.”

1 Korintiërs 3:16 -17 “Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die gees in julle woon nie? As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle”.

As dit vir jou voel jou verlede en bitterheid oorheers jou hart en denke, maak soos Paulus sê : Maak jou los van wat agter is en strek jou uit na wat voor is.

My wens vir ons is in 1 Tessalonisense 5:23 “Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!“

Maranata!   

Groete Duimpie.

Nog Sielskos vir Die Lewensreis
Die Skild van Geloof   
Raak sentimentiel oor mekaar   
Ek en My Huis   
Psalms – 9 Maniere van Aanbidding en Lofprysing     
My Baadjie of My Vriendskap
Plasing No 0212      

Leave a Reply

Your email address will not be published.