Dik Tou

Die Dik Tou Van Geloof

Deur Gerjo – Ben van der Merwe

As daar nou een man in die Bybel is wat ‘n ongelooflike geloof moes gehad het, was dit Noag. Sjoe, om ‘n boot van daardie grootte op droë land te moes bou, omdat daar ‘n vloed gaan kom, was sekerlik nie maklik nie. Dink net hoe het die mense geskinder.
“Die man is mal. Sy kop raas. Die arme kinders, hulle moet nou meehelp aan die stupid spul. Ons moet hom gaan aangee by die kinderbeskermingseenheid. In al die tyd wat ons mense op die aarde woon was hier nog nooit ‘n vloed in die woestyn nie. Noag is van lootjie getik. Dalk is hy van die bose.”
Selfs die predikante en pastore van die tyd het met Noag gaan praat, maar niks het gewerk nie.
  
Saans as Noag gaan slaap het hy ook seker soms in die paadjie van twyfel afgedraai:
Sê nou maar net die water kom nie. Wat dan? Dan ís ek seker mal soos wat die mense dink ek is. Dan gaan ek darem my naam lekker met ‘n plank slaan. Ja, ek het al klaar nie meer enige vriende oor nie. Ek wonder hoekom het die Here nou spesiaal vir my gekies. Kon Hy nie maar iemand anders gekies het nie?”

Maar die volgende oggend het hy maar weer opgestaan en verder aan die ark gebou, want sy geloof in God kon net nie toelaat dat enige iets of iemand hom onderkry nie.

Ai, dan raak ek darem lekker skaam as ek sien hoeveel keer my geloof struikel. Oor die kleinste ou dingetjie in die pad struikel ek. Hoekom kan ek nie maar soos Noag my lewe op geloof bly bou nie: Hebr 11:7… “Hy (Noag) het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ‘n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie.”

Kyk mooi wat staan hier: Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie.  Op droë grond het hy gestaan. Hy het ‘n “moewiese” boot gebou dat die stof so staan. Die mense het hom sekerlik uitgelag en gekoggel. Noag het ook nie eintlik  meer vriende oorgehad nie en tog, al het hy soms getwyfel, was sy geloof vas ge-sement in God.

Op ‘n manier moet ek en jy ons geloof kos gee om sodoende die toets van die tyd te deurstaan. Wanneer die volgende donker wolk op die horison begin opsteek, of as jy nou in ‘n storm is, moet dit klaar in ons kop maal –
Vertrou asseblief tog net op God.
Moenie die verkeerde twyfelagtige afdraai by die kruispad neem nie.
Maak nie saak hoe swaar jy kry nie.
Maak nie saak hoe alleen jy voel nie.
Maak nie saak hoe hopeloos dit lyk nie.

Trap net vas, luister en doen wat God vra. Laat dit oor en oor in jou kop maal: luister en doen, luister en doen, luister en doen!
Om oor na te dink
Glo jy in geloof?
Glo jy dat God jou geroep het?
Sal jy luister en doen wat God vra?
Al dink die res van die wêreld jy is mal?

Gerjo – Ben van der Merwe
Om meer van hierdie dagstukkies op email te kan ontvang, teken in by hierdie kruispad skakel.

Nog Sielskos vir die Lewenspad
Glo en Doen
Kan Julle Glo
Die Geloof van ‘n kind

Plasing No 0081

Leave a Reply

Your email address will not be published.