Dis Harde Werk

DIS HARDE WERK OM KIND VAN GOD TE WEES

My liewe Boeties en Sussies

Dis die begin van ‘n nuwe jaar.  ‘n Jaar met sy eie uitdagings, probleme en vreugdes. Iemand sê nou die dag “Dis harde werk om kind van God te wees.” Weet julle ek stem nogal saam met die stelling, omdat ons as Sy kinders so ‘n groot verantwoordelikheid het. Ons is soms die enigste Bybel of soos Paulus dit stel aanbevelingsbrief wat die wêreld kan lees.

2 Korintiërs 3:3-4 “Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie maar op die harte van mense. Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou.”

My boetie en sussie moet nie twyfel dat jy waardig is om dienaar vir God te wees nie. Ons lees oral in die Bybel van mense wat nie net deur voorbeeld nie maar ook deur te doen en te praat, wonderlike dinge doen.

  Dis mense soos ek en jy! God het elkeen van ons geroep met ‘n spesifieke doel en opdrag. Wanneer ‘n mens in jou verhouding met God groei, sal jy agterkom dat God byna elke dag vir jou ‘n opdrag het. (Al is dit net om vir iemand te glimlag.)

  As Jesus in jou lewe instap is jy nooit weer dieselfde nie. Jy wil iets vir Hom doen! Moet nie vir satan kans gee om jou in vertwyfeling te bring nie.2 Korintiërs 3:5-6 “Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van die nuwe verbond te wees, nie van die letter nie maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend.”

Godsdiens is nie ‘n klomp reëls en regulasies nie. Dit gaan oor verhoudings. Eerstens met God, en dan spruit die res daaruit. Dit gaan oor eenheid. Een met God en eenheid in Sy kerk waarvan Jesus die hoof is. Ons kan nie dit doen waarvoor God ons geroep het sonder om ook ander te betrek nie. Ons is een liggaam, een Kerk. Ons het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor ongelowiges om ook deur hul “gelees” te word.

 2 Korintiërs 3:18 “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, wat die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

 Almagtige Vader, Seun en Heilige Gees. Leer ons om so te leef dat ander U al meer in ons lewens kan sien. Laat U vrede vreugde en liefde deur ons vloei. Laat ons as U gemeente steeds nader aan U groei. U lig uitstraal en met ons lewens deur die Gees op mense se harte skryf.

Groete

Duimpie.
Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Its About Time
Josua Rigters en Rut
Maak die Pad Reguit
Julle Sal Krag Ontvang
Watse geskenke koop ek die kersfees?
Juig en Wees Bly
Gebedsdiens – 4 Julie 2021
Plasing No 0257

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *