Ek glo aan die gemeenskap van die heiliges

Hierdie deel van die apostoliese geloofsbelydenis handel oor die Kerk. Ons hoor van die gemeenskap van die heiliges, maar wat beteken dit om ʼn gemeenskap te wees? 

ʼn Gemeenskap is ʼn groep mense wat saamleef in dieselfde plekke en ruimtes, en hulle is werklik mekaar se naastes. Die gemeenskap van die heiliges is dus ‘n gawe van die Here aan Sy kerk en daardie gemeenskap moet deur ons beoefen word.

Die gemeenskap van die heiliges is in die kerk van die Here dikwels ‘n bedreigde gemeenskap, en soms selfs ‘n geskonde gemeenskap. Eerstens is daardie bedreiging van buite. Vyandskap en vervolging van die wêreld probeer om die gemeenskap te ver­woes. Uit die geskiedenis van ons kerk leer ons egter dat juis deur bedreiging van buite die gemeenskap van die gelowiges in die kerk sterker geword het. 

So wat bedreig ons nou?

Wat op die oomblik in die wêreld aangaan het almal op hol. Gaan ons kerk toe of nie? Is dit veilig of nie? Is dit nog relevant om kerk toe te gaan aangesien ons dit aanlyn kan bywoon? Persoonlik het ons gemeenskap my al deur baie moeilike tye gedra, soos ons mekaar se laste moet dra. Dit is ‘n veilige plek waar ons vir mekaar omgee en ook vir mekaar bid soos die Here ons beveel het om te doen. In Engels is daar die gesegde van “LIKE MINDED PEOPLE”. Ek vind dit baie makliker om met mense in ons gemeente te praat en om die wonderlike dinge te deel wat die Here gedoen het. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Ons moet ook dit met die wêreld deel, maar nie almal is “op die selfde golf lengte nie”. Dit is waar die gemeente van die heiliges inkom. 

‘n Groter bedreiging is daarom die sonde binne die kerk wat so gemaklik die gemeenskap van die heiliges kan verwoes. Om onmin te saai bring verdeeldheid en verdeeldheid is die grootste wapen wat die vyand gebruik om gemeentes op te breek. 1Joh 1:7-8 ” Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons, met mekaar, deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie”.

Die gemeenskap van die heiliges, die gemeente van God, die NG Mindalore gemeente, is belangrik vir die groei en voortbestaan van ons kerk. Hoeveel keer het mense al na ons verwys as die OMGEE Gemeente, waar jy altyd tuis voel en die liefde vir mekaar en die Here kan aanvoel. Ons moet nie daarop roem nie aangesien dit ‘n geskenk van die Here God is, maar ons moet as gemeente voortbou en nie die stryd laat vaar nie. 

Liefde groete 

Die Ontdekker. 

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Hoeveel keer het God jou al geroep om iets te doen?
Leer Om Op God Te Vertrou
Om God as Familie te dien
Niemand gee meer om nie
Moenie Mislei Word Nie
Plasing No 0336

Leave a Reply

Your email address will not be published.