Ek wil die Here loof – Ps 103

Te midde van al die gebeure waarin ons vandag is, is dit nodig dat ons ook na die mooi en die positiewe om ons moet kyk. Verlede week het ons saam gebid en ons harte voor die Here uitgestort.  Vandag gaan ons saam met Dawid ook vir God dankie sê vir die mooi, die positiewe wat ons nogsteeds kan beleef. Soos Spr 17:22 vir ons sê:  “‘n Vrolike mens, is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens word uitgeput”.

Ek beleef dit rondom my, ek sien hoe mense net meer en meer neerslagtig word oor als wat gebeur, en die inperkings en die keuses oor die inentings en al die hoekoms en waaroms wat rondom ons aan die gang is.
En ek sien hoe mense meer en meer neerslagtig word.

Ons is gewoond aan vermaak.  Ons wil shows kyk, ons wil saam kuier ons het so gewoond geraak aan vermaak dat ons in ‘n mate verleer het hoe om weer vreugde van binne onsself te vind.

Kom ons kyk wat noem Dawid alles wat vir hom vreugde bring.

Watse weldade doen God in hierdie tyd

HY VERGEWE AL MY SONDES

V9 “Hy bly nie ons sondes toereken nie
    Hy bly nie vir ewig toornig nie
V10 Hy handel nie met ons volgens ons sondes nie
     Vergeld ons nie volgens ons ongeregtighede nie
V12 So ver soos die ooste van die weste verwyder Hy ons sondes“.

Wat meer het ons in hierdie tyd nodig as vergifnis? Soos God ons vergewe moet ons ook ander vergewe…  Dit bring ook genesing in ons gees!

  • HY GENEES
    • Facebook en sosiale media is vol van mense wat sterf agv COVID, maar ek sien so min getuienisse van mense wat genees is! Ek kan getuig van my Pa en my Ma se genesing deur COVID.
    • Ek kan getuig van ‘n familie vriend wat paar maande in ICU was en waar ons almal ‘n paar keer gedink het dit is die einde, en hy is ontslaan en by die huis, ja ‘n lang pad van herstel, maar hy is genees.
    • Ek kan getuig van ons eie gemeente waar daar heelwat mense positief getoets was vir COVID en wat genees is, ja natuurlik het baie van hulle nagevolge, maar hulle leef!
    • Daar is soveel getuienisse waarmee ons sosiale media en ons statusse kan oorstroom.
  • HY GEE LEWE
    • In hierdie tyd het ons die waarde van lewe besef. Baie van ons het besef dat die lewe elke dag ‘n geskenk van God is. Gen 2:7 “Die Here God het die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese geword het.”  Dis hoe ons tot die fisiese lewe gekom het. Daarom is elke asemteug wat ons gee, ‘n genade geskenk van God! Die asemnood wat baie COVID pasiënte beleef onderstreep net die belangrikheid van hierdie fisiese asem wat God vir ons kom gee het. 

Ons kan nie sonder asem nie!
Ons kan nie sonder suurstof nie!
God gee vir ons die lewensasem


  • Maar dan kom Jesus in Joh 10:10 en Hy sê: ”Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed!”

Jesus neem lewe na ‘n volgende vlak.  Die lewe in oorvloed wat Jesus vir ons gee is die Ewige lewe! Die oomblik wanneer ek my lewe aan God oorgee en Jesus as my verlosser aanvaar, dan tree hierdie teks van Johannes in werking in my lewe.  Dan het ek die lewe in oorvloed! Ek het die ewige lewe.  Ek het nie net die fisiese asem wat ek van God af ontvang het nie, maar ek het die Heilige Gees as geestelike asem wat vir my die ewige lewe gee!

  • KROON MY MET LIEFDE EN ONTFERMING
    • V11 “So groot soos die afstand tussen die Hemel en aarde, so groot is Sy liefde vir ons”
    • V17 “Sy liefde vir ons is onverganklik”
    • Soos ‘n Vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom dien.
    • Rom 8:37-39 “Niks kan ons van God se liefde skei nie,  Nie COVID nie, nie die inenting nie, nie geeste of engele of aardse dinge of geestelike dinge nie.  NIKS kan ons van God se liefde skei nie” –  behalwe – onsself…. Hoe is dit moontlik?  Is jy kwaad vir God oor iets? Voel jy dat God onregverdig teenoor jou opgetree het? Dien jy God nog met dieselfde passie? Is Hy nog jou bron van hoop, jou kern van lewe? Voel God ver van jou af? Guess who moved???
  • LAAT MY DIE GOEIE IN OORVLOED GENIET
    • Wat is hierdie goeie?
      As jy COVID gehad het dan geniet jy weer die smaak van ‘n skaaptjoppie.
      Jy geniet die reuk van kos en die geur van blomme.
      Jy geniet dit om asem te kan intrek en te kan voel hoe dit in jou liggaam ingaan.
      Jy geniet dit om uit isolasie te kan wees.

    • Die goeie in oorvloed is elke dag daar! Waardering vir die son wat opkom, die mooi sonsondergange, die lag van ‘n kind, vriende en familie wat omgee, vrede in jou binneste wat alle verstand te bowe gaan, ‘n warm koppie koffie op ‘n koue aand. Dink bietjie aan al die goeie wat jy op hierdie oomblik kan geniet. Sommer nou geniet ons die goeie van tegnologie in oorvloed, want voor tegnologie sou daar geen eredienste kon wees nie!
  • GEE MY DIE JEUGDIGE KRAG VAN ‘N AREND
    • Habakuk 3 sê: “Die Here gee my die krag van ‘n ribbok”
    • Beide hierdie diere styg uit na die hoogtes, hoog bokant hul probleme of gevaar!
    • Hy jy al gesien wanneer ‘n arend aangeval word deur ‘n kraai of ander voël?  Wat maak hy? Hy span sy vlerke en vlieg hoër en hoër tot waar die ander voël nie meer kan nie. Die Ribbok of my gunsteling, Klipspringertjie, klim tot op die hoë rotse waar hy sy gevaar kan sien aankom, hy is voorbereid vir dit wat op pad is, hy word nie onkant gevang nie.
    • Dis wat God ons skenk! Jy kan jouself moeg vladder in die situasie waarin jy is, en teen als en almal en jouself baklei en stoei en gefrustreerd raak en kwaad raak, of jy kan jou vlerke van geloof uitsprei en deur die krag van God opstyg na sy Hemel troon (v19) waar jy veilig sal wees.  Dawid sê in Ps 23: “Die Here gee vir my nuwe krag.”
    • Fil 4:13 “Ek is tot alles instaat deur Christus wat my krag gee.” 

Jy hoef nie op eie krag hierdie battle waarin ons nou is te baklei nie!

  • HY LAAT REG EN GEREGTIGHEID GESKIED
    • Die onreg en onregverdigheid in hierdie land en wêreld maak ons kwaad en ongelukkig en ontevrede, mense is onregverdig, mense laat nie altyd reg geskied nie, want mense kan nie absoluut objektief wees nie.
    • Soveel mense soveel opinies, soveel interpretasies, soveel verskoning
    • Maar net God, wat die harte van die mens deurgrond  (Ps 139:23-24; Rom 8:27); wat die bedoelings van die hart beoordeel (Hebr 4:12) kan oordeel oor die mens, kan reg en geregtigheid laat geskied!
  • HY MAAK SY WIL AAN ONS BEKEND
    • Dwarsdeur die eeue het God Sy wil aan mense bekend gemaak.
    • Rom 12:2 gee vir ons leiding: “Julle moet nie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.  Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
    • Ons het nodig dat God ons sal verander. Dat God ons denke sal vernuwe! Dat ons nie aan die wêreld moet gelyk raak met sy negatiwiteit en verdoemende boodskappe.
    • Ons elkeen moet ons denke voed moet lofprysing, omdat God ons Sondes vergewe, ons genees, ons die lewe gee, ons kroon met liefde en ontferming, ons die goeie in oorvloed laat geniet, die krag van ‘n arend skenk, en reg en geregtigheid laat seevier.
  • Loof die Here, want Hy is goed, aan SY liefde is daar geen einde nie.                                                                        

                Soli Deo Gloria

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Dankbaarheid
Jou Denke Bepaal Wie Jy Is
Kerk Toe Ry
n Vrou se Gebed
Psalms – 9 Maniere van Aanbidding en Lofprysing
Salwing
Tyd Saam Met God – Deel 1
Vergifnis
Plasing No 0270

Leave a Reply

Your email address will not be published.