God Is Met Mindalore Oppad

God stap ‘n baie duidelike pad met Mindalore.  Die Jaartemas van die afgelope klomp jare is ‘n aanduiding van hierdie pad. 

2008

Om by 2008 te begin: Die Jaartema vir 2008 was as volg: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees, sê die Here die Almagtige” (Sagaria 4:6)  Mindalore was altyd die “Underdogs”, die verkeerde kant van Trezona, die klein gemeentetjie in die vlei, omring deur groot gemeentes.  God het duidelik vir Mindalore laat verstaan dat ons moet ophou om op ons eie insigte en kragte moet staatmaak en dat die voortbestaan van die gemeente nie afhang van ons planne en programme nie, maar alleenlik van die teenwoordigheid en werking van die Heilige Gees van die Almagtige God. 

2009

Vir 2009 het die Here 2008 se tema verder gevat en vir Mindalore gesê: “Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die Kragtige hand van God” (1 Petrus 5:6). 2009 was ‘n jaar van self ondersoek en skoonmaak in jouself en elke lidmaat se verhouding met God. 2008 het op ‘n baie negatiewe noot afgesluit nadat die gemeente baie groot finansiële verliese gelei het en almal het gewonder waarna toe nou.  God se antwoord was duidelik: As God nie die Koning en Heerser van Mindalore is nie, dan sal die gemeente nie die krisis kan oorleef nie.

2010

   In 2010 het God vir Mindalore die opdrag gegee “dat Hy meer moet word en ons minder” (Joh 3:30).  Dit het absoluut ook so gebeur. Sommer aan die begin van die jaar met die Jeugkamp het daar groot geestelike veranderinge in die kinders en gesinne plaasgevind.  Die MMC 2010 het vir Mindalore ’n totaal nuwe verhouding met God teweeg gebring. Die manne het terug gekom en het hul gesinne saam met hulle geneem op die reis van ontdekking van die Grootheid van God.  Gesinne het begin opstaan vir hul geloof en orals het die bordjies “Mindalore for Jesus” geproklameer dat Mindalore aan niemand anders as aan die Koning van die Konings, Jesus Christus behoort nie.  Ook in hierdie jaar het die spreekwoord: “Spot the Miracle” ontstaan, en het ons as gemeente al hoe meer begin raaksien dat God ons as gemeente baie seën.

2011

   In 2011 “Die Woord is Magtig” (Hand 20:23), is ons as gemeente gekonfronteer met ons kennis van die woord en of ons werklik besef hoe Kragtig en Magtig God se Woord is en hoe ons eie woorde ook krag en mag dra. Die uitvloeisel hiervan is dat daar besluit is om in 2012 te begin met ‘n Bybellees program sodat ons almal die woord van God kan leer ken en dit as die Swaard van die Gees kan gebruik.

2012

Vir 2012 was die opdrag baie duidelik: “Die Heilige Gees sal julle alles leer.” Joh 14:25,25. Ons vra so baie keer: “Hoe moet ons die Bybel verstaan?” Hoe moet ons die dinge van die Bybel uitleef? Hoe kan ons die wil van God uitleef. Tydens 2012 het daar groot geestelike groei in ons gemeente plaasgevind, veral na die Know Your Saviour kursus en die verskeie kampe wat bygewoon is.  Ons as gemeente het geleer dat ons moet luister na die Heilige Gees en dat elkeen van ons die voorreg het om gawes van die Gees te mag hê en dat ons dit moet gebruik. Almal het ’n verantwoordelikheid in die Koninkryk van God en op elkeen rus die verantwoordelikheid om dit uit te leef.

2013

   Gedurende die laaste Kerkraadsvergadering van 2012 is daar gebid oor die Jaartema vir 2013. Daar was ‘n paar mooi temas, maar tydens die vergadering het ons ‘n sms van een van die kerkraadslede, wat nie die vergadering kon bywoon nie, ontvang waarin hy ons vra om te bid vir die kerk-raad en die gemeente se beskerming.  Na die gebed sessie het die Here vir een van die lede van die vergadering, Joël 2:11 “Die wat die Here se bevel uitvoer, is sterk!” gegee om vir ons te lees. Dit is absoluut vir ons ‘n duidelike rigtingwyser van die pad wat God met Mindalore in 2013 wil stap.

Lees Ook
Voetspore
Nuwe Jaar – Nuwe Paaie
Vader Tyd op Moeder Aarde
Plasing No 0167

One thought on “God Is Met Mindalore Oppad

  1. Die jaarlikse temas het n groot impak op my lewe. Situasies waarin ek myself soms bevind laat my baie terugdink aan die temas en dien as n anker.

Leave a Reply to Anne-Marie Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *