God van die Onmoontlike

Jesus is die perfekte voorbeeld vir elkeen van ons wat die uitnodiging sal aanvaar om die onmoontlike in Sy Naam te doen. Hy het wonderwerke, tekens en die onmoontlike as ‘n gewone man in die regte verhouding met God gedoen. Dan verklaar Hy in Joh 14:12-13: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen, en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.”

As Jesus hierdie wonders gedoen het omdat Hy God was, sou dit onmoontlik vir ons gewees het om dieselfde te doen as Hy. Vêrder sou dit onredelik van Jesus wees, om dit ook van ons te verwag. Maar as Jesus dit as gewone mens gedoen het, is ek verantwoordelik om Sy leefstyl na te volg.

Wat van jou?

 1 Joh 2 v 6 sê: “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.”

As ons werklik in Christus is, moet ons lewe soos Hy gelewe het. Hoe het Jesus gelewe? Hy het die mense om Hom innig lief gehad en omgegee vir hulle, Hy het siekes gesond gemaak, Hy het die behoeftes en situasies van mense met bonatuurlike insig hanteer, Hy het kragtig in die lewens van ongereddes gespreek, Hy het die behoeftes van mense bevredig deur hul na die Koninkryk van God te lei. Jesus gee ons die opdrag om ook soos Hy te lewe.

As Hy dan van ons verwag om die selfde dinge as Hy te doen hier op aarde sal Hy ons ook oprig en bekwaam maak om soos Hy te lewe en te doen wat Hy gedoen het. En omdat Jesus as mens wonderwerke gedoen het uit God se krag, bemoedig Hy ons ook aan om dieselfde te doen, om alles te beryk wat die Vader deur ons wil doen, om gehoorsaamheid en geloof in God toe te pas, net soos Hy het.

Die rede hoekom God jou nie saam met Hom geneem het toe jy wedergebore is nie, is omdat jy die Goddelike opdrag het om die onmoontlike te betree. Bill Johnson argumenteer dat die realiteit van die Christelike lewe moet gemeet word aan die impak van die onmoontlike. Hy verklaar dat ons as Christene dit hierdie wêreld verskuldig is om God se krag hier op aarde bekend te maak. Ek stem saam met hom, ons wêreld is honger en dors na iets groter as hulself, hul verlang na God en Sy Almagtigheid, hul smag daarna om dié God se grootheid te sien en te beleef sodat hul kan glo.

In Mar 16:17 staan daar: “Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.”


In hierdie wêreld is ons geleer om deur ons eie krag deur moeilike situasies en uitdagings te druk. Maar werke wat nie gelei word deur die Heilige Gees nie loop uit op sweet, frustrasie en misluk

king. Probeer ons met al ons energie om die wêreld te oortuig van ‘n God wat groter is as enige uitdaging of moeilikheid? Probeer ons verniet om God se liefde aan mense te openbaar?

Jesus het ‘n wonderlike model om verlorenes te bereik. Hy het nie redenasies gebruik om mense te oortuig nie maar het deur bonatuurlike openbarings en krag (die Heilige Gees) mense tot die waarheid gelei, byvoorbeeld die Samaritaanse vrou by die put waardeer sy en die hele dorp tot bekering gekom het.

Is ons so ‘sterk en kragtevol’ dat ons nie vir God kans gee om deur ons te werk nie? Soos Paulus in 1Kor2:3-5 moet ons ook besef dat ons nie deur ons eie krag en oortuiging mense kan bekeer nie maar alleenlik deur die krag van God. Ons moet ook plek maak vir God se Gees om God se krag en natuur deur ons bekend te maak.  Hoekom wil ons net doen wat alle mense van alle gelowe kan doen?

Die Gees van Jesus Christus lewe in jou en Hy wil deur jou Sy krag hier op aarde bekend maak!

Antwoord hierdie vrae by jouself….

Glo jy?
Kom daar wondertekens in jou lewe voor?
Wat verhoed jou om die onmoontlike te betree?

Liefde groete, 

Die Ontdekker.

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Die Geloof van ‘n Kind
Wie is Jou Held?
Jeug Kamp 2013
Wie is jou Superhero?
Plasing No 0180

Foto Danksy Tusharpatil

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *