Hart en Siel Oorplanting

Esegiel 36:22-38

In my opleiding as Mediese ingenieur moes ek bygestaan het by ‘n ope-hart operasie.  Dit was seker een van die mees lewensveranderende ervaringe in my lewe om by ‘n oop borskas te staan met ‘n hart wat klop en die longe wat beweeg.  Die are is verbind aan ‘n hart-long masjien, sodat daar aan die hart gewerk kon word.  Na die nodige prosedure op die hart uitgeoefen is, is die are weer aan die hart vasgewerk en is die hart geskok om weer te begin klop. Dit is so senutergend want jy weet as daardie hart nie gaan begin klop nie, sal die persoon sterf.

  Die verhaal van Esegiël is so ‘n geestelike ope hart operasie.   As God as ons Geestelike Kardioloog na my hart kyk, wat sien Hy?  Sien Hy ‘n gesonde hart wat vol Liefde, vreugde, vrede, geduld, lankmoedigheid en sagmoedigheid is, of sien hy ‘n hart wat verbitterd is, kliphard geword het van al die seer, vol onvergewensgesindheid, haat teenoor mense wat jou te nagekom het.  Dalk vrees vir more en vrees vir die dinge wat jy nie kan beheer nie. ‘n Gebroke hart as gevolg van ‘n huwelik wat om die rotse is, of die dood van ‘n geliefde?

Toestemming  Geen operasie word gedoen as jy nie toestemming daarvoor gee nie. Jy moet ‘n besluit maak om die operasie te ondergaan. Net so moet jy ‘n besluit maak of jy God gaan vertrou met jou lewe! Jy moet sê: “Hier is ek Here, maak met my soos U goed dink”   

   Ek het ‘n paar maande gelede vir God gevra om ‘n Facelift te doen, tyd vir kosmetiese veranderinge in my lewe, maar vandag besef ek, God mors nie tyd op facelifts en kosmetiese operasies sodat ek dalk beter oor myself moet voel nie. Nee, Hy doen hart en siel oorplantings.

Esegiel 36:25. Reiniging: Voor enige hart operasie moet die persoon deeglik gewas word.  God wil jou gees en hart vandag rein maak. God wil jou suiwer vir Hom van alles wat ons verhouding met Hom kom beïnvloed het. God wil jou skoon was sodat jy gereed kan wees vir die geestelike operasie wat voorlê. Die voorbereidingstyd is soms seer. Sonder skoonwas, sonder skuldbelydenis en jouself voor God soos ‘n handsak uitskud, is vernuwing glad nie moontlik nie!

v26 Operasie: God staan gereed om vir ons ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees te gee.  Dit gaan ‘n totale verandering in ons lewens te weeg bring.   God sal Sy gees vir ons gee wat ons sal maak dat ons volgens God se voorskrifte en bepalings sal leef en gehoorsaam.

Wat beteken dit?

Ek moet bereid wees om te sê soos

Jesaja, “Hier is ek Here, stuur my,” soos Maria: “Ek is tot beskikking van die Here, laat met my gebeur soos U besluit”  Dit is om blindelings God te vertrou met my hele lewe. Om my ideale vir myself, my gesin en kinders op te offer en vir God te vra wat is SY ideale.

Romeine 6: Ek moet saam met Christus sterf.  Dis skrikwekkend. Want as ek sterf is ek dood in myself. Dis harde woorde, maar dis wat Jesus vir my gedoen het.  Wanneer ek sterf in myself, dan kan ek opstaan met ‘n nuwe lewe, want dan kry ek ‘n nuwe hart en nuwe gees wat deel het in die opstanding van Jesus. 

Kolosense 3:1-3  “1 Ons rig ons gedagtes op die dinge wat daarbo is. 2Ons lewe saam met Christus in verborge in God. 3 Christus is ons lewe, ons sal met Sy wederkoms saam met Hom verskyn en in Sy heerlikheid deel!

Ons moet bereid wees om ons hele lewens wandel te verander.

Nasorg:  Wat word van my verwag as ek ’n nuwe hart en ‘n nuwe gees het?

1) Ek moet die verkeerde dinge in my lewe doodmaak! (Kol 3:5),
2) Breek met die ou sondige gewoontes (Kol3:6-10),
3) Is Christus alles in jou (Kol3:11)
4) Vrug van die gees word sigbaar in jou lewe (Gal 5)
5) vergewe mekaar, soos Christus ons vergewe het (Gal5:13),
6) Julle moet mekaar liefhê , dit bring eenheid(Gal5:14)
7) Die vrede van Christus moet die deurslag gee in ons lewens (v15)
8) Wees altyd dankbaar (Kol 3:15)
9) Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in ons bly (Kol3:16)
10) Leer en ondderig mekaar met alle wysheid (Kol3:16) 
11) Sing, loof en prys die Here uit dankbaarheid!  (Kol 3:16)
12) Wat julle ook al sê en doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus! (Kol 3:17)

Begin vandag weer nuut, Maak Paulus se woorde van Filippense 3:10 jou eie! 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,

Liefde Groete

Henning
Nog Sielskos Vir Die Lewensreis

Beskerming
Eenvoudige Reels
n Vrou se Gebed
Gebedsdiens – 4 Julie 2021
Jou Denke Bepaal Wie Jy Is
Julle Sal Krag Ontvang
Plasing No 0285

Leave a Reply

Your email address will not be published.