Hoe?

Hoe gaan die Heilige Gees ons leer? Dit is immers ons tema van die jaar en dit is ‘n belofte wat deur God aan Mindalore gegee is. So, hoe presies gaan die Heilige Gees ons leer, ons kan nie die Gees sien nie, en ons kan tog nie in ‘n klas gaan sit met ‘n nota boekie nie. So, hoe presies gaan dit werk?

.

Heel eerste kom ons gaan toets God se “kredietwaardigheid”. 2 Tim 2:13 – “die hele Skrif is deur God geinspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek” – so dit beteken elke woord wat in die Bybel staan is daar omdat God dit toegelaat het en dit beskou word as die waarheid. Jesus is die Woord en Jesus is die weg en die waarheid so die Woord is die waarheid.

 Josua 23:14 “Self gaan ek nou die pad van almal op aarde. Julle weet met julle hele hart en siel dat nie een van al die goeie beloftes wat die Here julle God oor julle gemaak het, onvervul gebly het nie. Almal het uitgekom. Nie een belofte het onvervul gebly nie.” – So ons weet die Woord is die waarheid en dat God Sy beloftes nakom so nou kan ons gaan kyk na die hoe.

Vir ons om enige iets by iemand te leer moet daar interaksie wees. Dink terug aan die laerskool dae, die onderwyser het mooi met die klas gepraat en verduidelik en sodra daar ietsie is wat die jongertjie nie verstaan het nie het die handjies soos ‘n golf opgeskiet om vraagies te vra, relevant of nie. As ek reg onthou’ was ek nogal die een wat altyd met die Juffrou wou praat oor alles en niks. Die punt is daar was goeie interaksie.  God belowe die Heilige Gees GAAN ons leer so ons moet seker maak daar is goeie interaksie.

So, hoe gaan die interaksie tussen mens en die Heilige Gees wees?

Die Heilige Gees is in ons (‘n geskenk van Jesus af) en ons kan met Hom gesels. Bou ‘n noue band, nooi Hom uit as die Eregas by jou stilte tyd, by jou werk, as jy bestuur.  Raadpleeg Hom in elke besluit wat jy maak. Voordat jy Bybel lees vra die Heilige Gees om vir jou die boodskap te laat verstaan. Verbeel jou, jou beste vriend loop elke oomblik van die tyd saam met jou en alles wat jy vir hom of haar sou sê, sê dit vir die Heilige Gees. Ek weet dit klink dalk bietjie verregaande, maar nooi die Heilige Gees uit om saam met jou te eet, te speel, te werk, te leef. Kort voor lank sal jy die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe ervaar. Slegs dan sal die Heilige Gees jou begin leer.

Dit is onbeskryflik wonderlik wanneer die Heilige Gees dinge begin openbaar. Vir my is dit nie van:  vra ‘n vraag en kry ‘n antwoord nie, maar eweskielik verstaan ek dinge net beter.  

Dinge waarmee ek geworstel het, gaan net oop en ek sien God se werking in die saak. Dit is ongelukkig nie altyd net “sunshine and roses” nie. Die Gees leer my ook wat ek verkeerd doen en dit is die “pakslae dae”. Uit Liefde word ons getug om op die regte pad te bly. Ek het aanvanklik gedink ek is besig om van my trollie af te gaan, maar as dit “mal” is wil ek in ‘n “Malhuis” wees. Die Gees wys dinge uit in my lewe wat ek nie eers van geweet het nie en dan begin die moeilike werk om dit te verander.

Uitdaging

   Ek wil elke persoon uitdaag om net vir ‘n week met die Heilige Gees te praat asof dit ‘n mens is wat alles saam met jou doen. Jy het niks om te verloor nie. Dit is nie eers harde werk nie want ons mense hou mos daarvan om te praat so dit behoort maklik te wees.

Liefde Groete

Die Ontdekker

Nog Sielskos vir Die Lewens Pad
Koringkorrels
Dagboek
Pienk Bladsye
Plasing No 0105

NG Mindaloe, Richardson Laan 32, Mindalore, 1739

Leave a Reply

Your email address will not be published.