Leef ons nou in die eindtyd? Mat 24:29-44

Sondag 23 Januarie 2022

As daar nou een ding is wat COVID wakker gemaak het in die mense se gesprekke, is dit die vraag na die eindtyd.  Daar is verskillende sieninge en ek gaan nie vandag een van hulle probeer verdedig nie.  Vandag gaan ons net kyk hoe Matteus Jesus se vertelling van die eindtyd aan ons oordra.

Wanneer is die eindtyd?

Mat 24:29-31 sê vir ons baie mooi wat in die laaste dae van die eindtyd gaan gebeur.

1) Daar gaan kosmiese veranderinge plaasvind – Sonsverduistering, ‘n maan wat nie skyn nie, sterre wat uit die ruimte val en die kragte van die Hemelruim wat ontwrig gaan word.

 – Sonsverduistering? Volgens NASA vind daar elke jaar omtrent 2- 4 Sonsverduistelings plaas, maar die area op die aarde wat geraak word deur die algehele sonsverduistering is baie klein (ongeveer 80km radius). Dus op enige gegewe plek op die aarde vind ‘n algehele sonsverduistering slegs 1 maal in honderd jaar plaas, maar daar is sekere plekke op die aardbol waar die ‘n paar jaar uitmekaar gebeur.

Donkermaan? Ongeveer elke 29.5 dae.

Verskietende sterre? Elke aand ‘n hele paar, soms ‘n paar duisend per uur.

Die Kragte van die Hemelruim wat ontwrig word: Kom ons kyk net na die effek van ‘n meteoriet wat die aarde tref: In 2013 het ‘n helde vuurbal die lugruim bokant Chelyabinsk, Rusland gevul. Die huisgrote meteoriet het die atmosfeer binnegedring teen 18km per sekonde en het 23 km bo die grond uitmekaar ontplof. Die ontploffing het energie gelykstaande aan 440 000ton van TNT vrygestel en ‘n skokgolf geskep wat vensters uitgeblaas en geboue beskadig het oor ‘n area van 518 m2. Meer as 1600 mense was beseer, meestal agv glasstukke.(Solarsystem.nasa.gov)  ‘n Groot Meteoriet wat skade veroorsaak kan duisende jare uitmekaar gebeur, soos byvoorbeeld die meteoriet wat die Dinosours laat uitsterf het.

Kyk maar net hoe mense half paniekerig raak wanneer die son vuurtonge uitstraal en almal dan bekommerd is dat hul rekenaar en selfoon tegnologie nie gaan werk nie!

Net hierdie paar dinge wat Jesus hier noem laat my besef dat Hy verseker nie praat binne ons verstaan van tyd nie, maar binne die goddelike konteks van tyd. Dit kan binne minute soos verskietende sterre wees of oor duisende jare soos meteoriete. Dus kan ons nie maar net op ons louere rus nie. Ja, elke aand is daar verskietende sterre, elke maand word die maan donker, elke paar jaar (of 1 maal in ‘n leeftyd) is daar Sonsverduistering, maar hoe weet ek nie dat volgende meteoriet more gaan val nie en dat die duisende jare nou om is? Dan kom die realiteit van 2 Petrus 3:8 in werking “Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag!”

Mat 24:30 Wanneer hierdie dinge gebeur, sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit.  v27 ”Die koms van die Seun van die mens sal wees soos ‘n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig!”

2) Die Vye boom

Die volgende wat die Here ons op attent wil maak is dit wat rondom ons gebeur: v32 “Leer by die vyeboom: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, is die somer naby.  So het ek ook geleer dat wanneer die amandel bloei, is die lente hier! Weereens kom Jesus vir ons sê dat soos wat die winter soms baie lank kan wees en vir ons moeilik kan wees en die vyeboom dan vir ons hoop bring dat die einde van die winter insig is en dat die somer nou ‘n realiteit gaan word, so moet ons weet dat Jesus se terugkoms naby is,

Die meteoriet, die son, die vyeboom, die maan, die verskietende sterre, alles sodat ons moet besef dat die tyd naby is, dit is voor die deur, dis hier, dis nou! Al hierdie tekens gebeur om ons en ons weet nie wanneer die volgende teken gebeur nie.

Nog in hierdie geslag

v34. Jesus verseker ons dat dit al hierdie tekens nog in hierdie geslag gaan gebeur, en dwarsdeur die eeue het al hierdie tekens gebeur! Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. Nou is dit dan al 2000 jaar later en dit het nog nie gebeur nie! Onthou, ons tyd en God se tyd verskil drasties.  Hierdie geslag vir God is nie beperk tot die 70jaar wat ons as mense leef nie. Daarom sê Hy dat die hemel en die aarde sal vergaan, maar Sy woorde nooit!(v35) Wat die geslag met Jesus wel beleef het, is die inleiding tot die eindtyd, naamlik Jesus se kruisdood, Sy opstanding uit die dood en dat Hy opgevaar het hemel toe.  Nou wag ons vir Sy terugkeer.

Verder wil Jesus ons weer van die verganklikheid van die skepping bewus maak teenoor die ewigheid van Sy Woorde en Sy bestaan. Die tekens is daar vir elke geslag om te sien.  Elke geslag mag die laaste geslag wees totdat Jesus weer kom.

Die vraag bly:  Is ons nou in die eindtyd?

Wie ken die uur?

Ja ons is, want niemand weet wanneer daardie dag of uur gaan kom nie (v36) Net om dit vir ons nog duideliker te beklemtoon sê Jesus dat nie eens die Engele weet nie, so dit help nie ons vra die Engele nie, dan beklemtoon Jesus dit nog verder deur te sê dat Hy self nie eers weet wanneer daardie dag en uur sal wees nie.

Die enigste een wat weet is die Vader! Die Seun moet die Vader se opdrag uitvoer, en daarom die oomblik wanneer die Vader vir die Seun sê: “Nou is die tyd dat jy moet terug gaan aarde toe, dan moet die Seun dit doen.”

Iemand het eenmaal gesê: “Die enigste feit waarvan jy seker kan wees die oomblik wanneer jy gebore is, is dat jy besig is om te sterf.”  Dit klink baie kras gestel, maar dis tog waar, ons weet nie hoe ons lewens gaan loop nie, ons weet nie hoe lank ons gaan leef of wat ons in ons lewens gaan bereik nie, maar ons almal weet dat daar ‘n oomblik gaan kom wanneer ons gaan sterf.”  Hierdie beginsel geld vir die eindtyd. “Die oomblik toe Jesus opgevaar het na die hemel, het die eindtyd begin.” Met ander woorde, Jesus is oppad, ons weet nie wanneer nie, of hoe dit presies gaan gebeur nie, maar ons weet dit is nou die eindtyd.

Voorbeeld van Noag

Jesus verduidelik die eindtyd deur Noag te gebruik. Niemand het geglo wat Noag gesê het nie. Mense het net gemaak wat hul wil en Noag gespot en die lewe geniet. Die oomblik toe Noag in die ark ingaan en God die deur afseël, het die mense die realiteit besef.  Toe was dit te laat! Net Noag was voorbereid vir die reën wat gaan val, want hy was gehoorsaam aan God se opdrag en het dit baie ernstig opgeneem!

Voorbeeld van die dief

Jesus gebruik nog ‘n voorbeeld waarmee ons almal baie goed bekend is, en dit is inbrake! Niemand weet wanneer die dief kom nie! Want as ons geweet het sou ons hom ingewag het en gestop het, maar ons almal, of meeste van ons, het palisades en alarms en diefwerings en versekering, vir indien hulle sou kom, sou ons gereed wees.

Slot

Ons is beslis in die eindtyd want (v44) Jesus kom op die uur dat ons dit die minste verwag. Daarom moet ons gereed wees soos Noag en nie onkant gevang word soos al die duisende mense wat in die Sondvloed verdrink het nie.

Is jy gereed vir Jesus se koms? Dit mag dalk vandag nog wees.

Soli Deo Gloria

Plasing No 0359

Foto: Mount Kilimanjaro
FotograafL Muhammad Mahdi Karim, GFDL 1.2 (Wikipwdia Commons)

Leave a Reply

Your email address will not be published.