Moedeloos en Sonder Hoop

My liewe Boeties en Sussies

Dis al amper Kersfees en dit is nog altyd iets om na uit te sien. Familie en vriende wat saam kom, mooi musiek wat in die winkels speel en die lekker geur van braaivleis wat in die lug hang. Tog lyk baie mense vir my so moedeloos, so sonder hoop. Die feit dat mense so moedeloos lyk het my laat dink aan wat geloof nou werklik is. Ons sê tog ons is ‘n land waarvan meeste mense die Christen geloof aanhang.

Wat is geloof dan?  Hebreërs 11:1 “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”  Met ander woorde dis ‘n werklike versekering dat dinge waarna ons uitsien beslis sal gebeur. Waarna sien ons uit? Na die wederkoms beslis; maar wat doen ons intussen?  Glo die beloftes wat God jou gee. God maak nooit leë beloftes nie. Hy is getrou. Hy is ons Hoop. Ons verwagting is op Hom, Hy wat ons vrygemaak het.

Hoekom kry ons swaar en moet ons ly? Hoekom voel ons soms so sonder hoop en moedeloos?  Ek het nie al die antwoorde nie.  Hebreërs 12:11-14 -” Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir die wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat julle gehoorsaam is aan die wil van God. Versterk daarom die slap hande en lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is nie uit lit uit raak nie, maar gesond word. Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir die heilige lewe, waar sonder niemand die Here sal sien nie.”

Judas 20-21 “Julle, Geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle aller heiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle gee.”

Mag julle lam knieë en slap hande in die fees seisoen versterk word.  Dié van julle wat nie moedeloos voel nie, onthou julle het ‘n verantwoordelikheid om die ander se hande en knieë te versterk.

Andrew Murray het gesê “Geloof verwag van God dit wat alle verwagtinge oortref”.

 Lekker uitsien na dit wat God vir jou beplan!

Groete

Duimpie.

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Hoekom Glo Jy in God?
Boemelaars
Die Emmaus Pad
Pinkster 2021 – Die Heilige Gees 2
God Hou Sy Woord en Beloftes
God Se Vyf Vinger Plan
Plasing No 0231

Leave a Reply

Your email address will not be published.