Mostert Egpaar 60 jaar getroud

Mariaan en Louis Mostert het al ‘n leeftyd se herinneringe saam.
Die pragtige paartjie het onlangs hul sestigste huweliksherdenking gevier.

‘n Leeftyd saam is nie vir almal beskore nie, maar die Mostert-egpaar
het dit reggekry. Op 1 Maart het hulle hul 60ste huweliksherdenking gevier.

Mariaan het vertel hoe hul storie met net een kyk begin het.
Dit was soos die oumense sê, “love at first sight,” het sy laggend vertel.

Sy was in standerd sewe en Louis was in standerd nege. Hulle het saam in Middelburg
skool gegaan en Louis was op die leerlingraad. Dit was die leerlingraad se werk om die
aankondigings te doen en die kinders in hul rye te hou. “Toe kyk hy vir my en ek glimlag,”
het sy vertel.Ses-en-‘n-halfjaar later is die twee getroud.

Mariaan het onderwys gegee en Louis was besig om voor te berei om in die bediening
in te gaan. Na Middelburg het die paartjie in Bloemfontein gewoon voordat hulle Pretoria
toe verhuis het en Louis sy laaste vier jaar kon klaarmaak om ‘n predikant te word.

In 1966 is hy tot die bediening as predikant van die Nederduitse  Gereformeerde Kerk
toegelaat. Die paartjie het toe vir vier jaar in Piet Retief gaan bly voordat  hulle Mindalore
toe gekom het en ‘n nuwe kerk gevestig het.

Hulle was 31 jaar lank betrokke by die NG Gemeente Mindalore  en het in 2002 afgetree.

Die paartjie het hul dieselfde jaar in Rant-en-Dal gevestig. Louis was steeds betrokke by
die kerk en het tot en met 2019 by die Suiderlig Gemeente gehelp met Bybelstudie vir seniors.

Die paartjie het twee dogters en twee seuns. “Almal is bo 50,”  het Louis skertsend vertel.
Hulle spog ook met hul agt kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Mariaan het vertel dat sy hul troudag nog baie goed kan onthou en dat dit ‘n herfsdag met
perfekte weer was. Alles om hulle was groen. Na die seremonie het hulle ‘n regte boerebruilof
op die plaas gehou.

Om die spesiale geleentheid te vier het hul dogter hulle Donderdag, 1 April, uitgeneem
vir iets lekkers. Die res van die naweek het hul ander kinders en kleinkinders hulle om die
beurt besoek.

Wat beskou die paartjie as die geheim om 60 jaar getroud te bly?
Louis het vertel dat mens net moet aanhou, terwyl Mariaan vertel het dat hul geloof hulle
gedra het en dat hulle elke dag in liefde aangegaan het. Hulle is net dankbaar dat hulle
bymekaar kan wees.

Oorspronklike artikel het in Krugersdorpnuus verskyn op 23 April 2021. Foto: Natasha Pretorius.
https://krugersdorpnews.co.za/454957/mostert-egpaar-al-60-jaar-getroud/

Nog Sielskos vir die Lewenspad
Mindalore sluit haar 40e Feesjaar af met ‘n Dinee vir ’n Koning
Keniane stuur groete
Veertig jaar van God se Alomteenwoordigheid
Die verhaal van Tussen Ons

Plasing No 0056


Leave a Reply

Your email address will not be published.