Saam geroep tot eer van God

Swaziland Reformed Church

Anne-Marie Scheepers

Ek skryf hierdie artikel oor Swaziland, aangesien dit is waar ons gemeente betrokke is rakende Sending.  In die Maart uitgawe van Tussen Ons het Henning vertel waar alles begin het en ek gaan my beste doen om julle op hoogte te hou met verwikkelinge rondom Swaziland .  

April 2011 het Mindalore weer op n uitreik gegaan.  Ek het besluit om saam te gaan, ek wou vir myself sien waaroor Swaziland gaan.  Jannie het slegs 2 van die 7 dae gegaan en ek het alleen agtergebly saam met die groep.  Reeds daar het God se plan in werking getree. 

Ek moes op my eie alleen daar wees sodat Jannie my nie kon beïnvloed nie.  Dit wat ek daar ervaar het, is alles dinge wat die Heilige Gees in my wakker gemaak het.  In kort, ek het n nuwe hart gekry en my lewe het begin verander.   Ek moet ook by sê, ek het God gevra vir ‘n “life changing experience”.  Dit is presies wat ek gekry het. 

Terug by die huis, middel Mei 2011, stuur Jannie vir my n e-pos.  Dit het gesê dat hy voel geroepe deur God om vir Hom in Swaziland te gaan werk.  Hy gee toe ook vir my sy roepings teks Jes 61:1 “Die Gees van die Here my God het oor my gekom, die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood”.  Sjoe, ek het my stil geskrik maar het dit soort van verwag.  Al wat ek hier kan sê, op daardie stadium het ek geweet wat ek weet wat ek weet.  Sondag 22 Mei sing ons die liedjie “Gaan dan heen” in die kerk, en net daar weet ek, ons moet Swaziland toe gaan, ons moet God se doel met ons lewe, gaan leef tot Sy eer.  23 Mei 2011 kry ek bevestiging in Jes 55: 12 “Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word, die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap.”

 ‘n Tweede bevestiging is aan Jannie gegee op 9 Junie 2011- Deut 8:7 “Hy sal jou in ‘n goeie land bring: ‘n land met waterstrome, met fonteine en riviere wat in valleie en berge ontspring.”  ‘n Tweede bevestiging is ook aan my gegee op 1 Julie 2011 in Deut 11:10-12 “Die land wat julle in besit gaan neem is n land met berge en vlaktes en word natgemaak met reënwater.  Dit is ‘n land waarvoor die Here jou God sorg, van Nuwejaarsdag af tot Oujaarsdag toe hou Hy ononderbroke sy oog daaroor”. Hier belowe God sommer ook dat Hy vir ons sal sorg.

Ter voorbereiding vir ons taak in Swaziland, het Jannie sy Teologiese studies begin.  Hy is nou reeds in sy tweede jaar.  As alles mooi verloop, sal ons die groot skuif maak in 2016.

Intussen het die Swaziland Reformed Church te kenne gegee dat hul Jannie gaan gebruik in ‘n Opleidingsposisie.  Wat dit gaan behels, is dat hy opleiding sal gee aan mense wat geroepe voel om in diens van God te staan.  Hoe om die Woord ten volle te gebruik.  Hulle het ons ook onlangs ingelig dat hul plan is om ons op Pemba te huisves.  Dis dan ook die doel van die komende besoek aan Swaziland.  Ons gaan om te kyk wat gedoen moet word om n plekkie voor te berei. 

Ons vra dat Mindalore ons in hul gebede sal hou.  Die enigste sekerheid tans, is dat God in beheer is.   

Gebedsversoeke

  1. Rev Musa Shongwe en sy vrou Qondile, leraarspaar van die Manzini gemeente.
    2.  Finansies om die kerkgebou op Malindza en Manzini te voltooi.
    3.  Dat God duidelik aan ons sal wys wat Sy roeping vir ons is.
    4.  Vir ons kinders vir aanvaarding.
    5.  Meer lidmate van Mindalore om deel te neem aan uitreike.

Met Liefde

Anne Marie Scheepers

Sien Ook

Gaan Dan Heen,
Glo En Doen,
Dis Jou Beurt,
Lei Jou Kinders tot Geloof
Wie is Jou Super Hero?
Plasing No 0185

One thought on “Saam geroep tot eer van God

  1. So baie dinge het in die 10 jaar gebeur sedert my 1e uitreik na Swaziland. Wat ‘n voorreg om dit wel vir 3 jaar saam met Jannie te kon doen. Die Here seën ons Swazi familie so baie en die kerke op Malindza en Manzini kon toe ook klaar gebou word. Alle eer aan God alleen!
    I am the winner in Christ my Lord
    The winner I will be if I am in the Lord
    Like a soldier in an army
    I’m set for war
    I am the winner in Christ my Lord!

Leave a Reply

Your email address will not be published.