Selfbeheersing

Desember – VAKANSIE!

Ja nee, die jaar is nou op ‘n einde. Teen die tyd dat julle die “Tussen Ons” nuusbrief ontvang is die meeste kinders seker al so te sê klaar met die eksamen. So die ouers kan nou begin ontspan. Ek glo en vertrou almal het hul beste gegee en sal goeie punte behaal.

   So na die eksamen spanning kan niemand wag vir die vakansie nie. In ons poging om van die spanning ontslae te raak kan ons so maklik beheer verloor deur dinge so effens te oordoen. Daarom kan ek nie anders as om te dink aan die teks in Galasiërs 5:23 “nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.” (ANV 1983). Dit is natuurlik die slotvers van die gedeelte wat handel oor die vrugte van die Gees en ek wil graag bietjie stilstaan by die woordjie “selfbeheersing”.

   Die H.A.T definieer selfbeheersing as volg: “Die bedwing van ‘n mens se drifte en hartstogte”.  Ten spyte van dié erkende betekenis moet ons egter nie ons begrip van die woord beperk tot die streng toepassing van dissipline sover dit jou passie en/of eetlus betref nie. Die woord bevat ook begrippe van om goeie begrip te hê, sobere wysheid, matigheid en goeie verstandelike welstand.

 Verder lees ons in Spreuke 25:28 van ‘n goeie geimpliseerde voorbeeld vir selfbeheersing: “ ’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie.”   Die prentjie wat hier geskilder word is een van ‘n stad wat totaal weerloos is teen vyandige aanvalle as sy mure in slegte toestand is. Net so is die mens wat geen beheer oor sy “spirit” of gees het nie. Die gees is immers jou bron van passievolle energie. So ‘n mens het geen weerstand teen woede, wellus en ander emosies wat jou persoonlikheid vernietig nie. In ‘n meer positiewe lig lees ons die volgende in Spreuke 16:32: “ ‘n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.”

   Die vergelyking tussen die twee verse in Spreuke beklemtoon selfbeheersing in terme van sy offensiewe sowel as verdedigende kenmerke. Ongetwyfeld is selfverloëning, self-opoffering ensovoorts onlosmaaklik deel van ‘n Christen se lewe as ‘n plig teenoor God. Ten spyte hiervan sal ons menslike natuur aanhoudelik en soms baie sterk ons probeer wegstoot van God. Hiervan lees ons in Romeine 8:7 “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God”. Dit is juis die krag wat elke kind-van-God moet oorwin. Deur jouself te beheer, jouself te ontneem van die bevrediging van jou natuurlike drange en om jouself op te offer is noodsaaklik as jy weerstand teen sonde as ‘n lewenswyse wil maak.

   Ek hoop dit het ons verstaan van die gebruik van die woord “selfbeheersing” in die Bybel bietjie meer duidelik gemaak. Sonder twyfel speel dit ‘n groot rol en een waarvan ons maar notisie kan neem.

   Gaan geniet die luilekker vakansie, maar onthou ook net watter rol selfbeheersing moet speel in jou lewe. 

Liefde Groete

Oom Jan
Plasing No 0099

Leave a Reply

Your email address will not be published.