Wees Rustig In Die Here

Want so sê die Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg, daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry, daarom sal julle vervolgers laat jaag!”  – Jesaja 30: 15-16 OAV

Soos weerlig in die verte tekenend is van ‘n naderende donderstorm, so is Jesaja se profesieë met betrekking tot die magte van Assirië wat opruk.   Efraim, die noordelike ryk van Israel, word as ‘n dronkaard uitgebeeld (Jes 28:1) wat onbewus is van die haglike toestand waarin hy verkeer . Efraim se ondergang kan nie meer gekeer kan word nie.  Ariël (Jes 29 – 30), simbool van Juda,  is volgende op die lys na die val van Efraim, omdat ook hy valslik op Egipte vir sy beskerming staatgemaak het.  Die volk het hulle hoop op mense gestel in plaas van op die Lewende God.

Maar die Here gebruik die profeet Jesaja om die volk van Juda te waarsku.  Hulle enigste redding lê by Hom. Hulle moet hulle bekeer en nie na wêreldse oplossing soek nie. Egipte kan hulle nie red nie. Hulle moet ook nie op hulself vertrou nie. Selfs hulle vinnige perde (Jes 30:16) hulle rus in hulle land hê.  “Die Here is gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle ontferm: Die Here is ‘n God wat reg laat geskied, en dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou (Jes 30:18 NAV).

Jesaja het beide Efraim en Ariël (Juda) gewaarsku: “Moenie op die mag van Egipte vertrou nie, julle sal bedroë daarvan afkom. Plaas julle vertroue op die Here alleen want Hy sal julle nooit verlaat nie. Maar na Jesaja wou hulle nie luister nie. Wie is Jesaja nou dat ons na hom moet luister? Ons insigte is verhewe bo sy gebrabbel, ons is mos nie kinders wat pas gespeen is nie (Jes 28:9-10 NAV). Hulle verontagsaam die Woord van die Here en plaas hulle vertroue op die magte van die wêreld en hulle eie vermoëns. Ons sien dan ook die gevolge van hierdie misplaaste vertroue.

Op wie of wat gaan ons vertrou? Op die politieke leiers van hierdie wêreld, op ons eie vermoëns, miskien ons verhewe kennis of ons finansiële status?  Is ons eie insigte ook verhewe bo die verbondsbeloftes van God?

Die Here sê ons moet nie terneergedruk raak nie, maar ons moet op Hom vertrou en stil raak.  Om stil te wees beteken nie om net niks te doen nie.  Dit beteken dat ons in volle vertroue op Hom met ons lewe sal voortgaan, sonder angs en sonder vrees vir die wêreld. Ons is almal onder die nuwe verbond, deur Jesus Christus, kinders van God.  Ons Here Jesus Christus het vir ons gesê:  “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie”. (Joh 14:27 OAV)

“Ek is rustig wanneer ek by die Here is. Dit is Hy wat my elke keer red as ek in die moeilikheid beland”. (Psalm 62:2)

Dit is so nodig dat jy die goeie gewoonte sal aanleer om elke dag tyd in te ruim om net stil by die Here te wees. Dit is die een plek waar jy net hoef te wees en nie hoef voor te gee en te presteer nie. Jy sien, prestasie, verdienste en voorgee maak ʼn mens moeg. By die Here kan jy net stilsit en rou eerlik wees. Hy ken in elk geval jou hart – die mooi en die lelike daarvan. Jy kan Hom in alles ken en Hom presies vertel wat in jou lewe aangaan en wat jou behoeftes is. Dis waar jy rustigheid kry – by God alleen.

Christus alleen kan blywend vrede bring: vrede met God, vrede tussen mense en nasies, en vrede in ons hart.

Liefde Groete

Die Ontdekker

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Dis Harde Werk
Ek Weet Nie Meer wat die Waarheid is nie
Juig en Wees Bly
Moenie Mislei Word Nie
Vergeet Gister – Ons Het Werk Om Te Doen
Vergifnis
Waarom moes Jesus as mens gebore word?
Worrying About Tomorrow
Plasing No 0279


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *