As gebou van God glo ons in die Krag van gebed.

Mat 9:14-29

‘n Paar Sondae terug het ons ‘n gebedsdiens gehad en het ons gebid vir die huidige situasie rondom die pandemie. Gebed is ‘n gesprekvoering met God en is ‘n belangrike bousteen van ons verhouding met God. Wanneer ons Markus 9:14-29 lees dan kan ons ook met die verskillende karakters in die gedeelte identifiseer en dat Jesus se woorde aan die einde van die teks:  Hierdie soort goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.

Ek dink die dissipels het na mekaar gekyk en half verstom gevra maar hoe moet ons dan bid.

Meeste van ons ken ‘n kompas. In die verlede het ons met kompasse ons rigting in die veld gekry.  Selfs Google Maps op ons  fone het ‘n kompas waarop jy Noord kan kry om die rigting waarin jy ry te kan bepaal.

‘n Kompas se doel is om vir jou rigting te gee en seker te maak dat jy by die regte bestemming uitkom en as jy nie ‘n kompas reg gebruik kan daar maar probleme op jou pad kom. Reg kyk en lees kan weer net jou rigting kry en by jou eindbestemming uitkom.  Gebed is ons kompas om rigting te hou in ons lewe ten spyte van die omstandighede waarin ons is.

Noord: Geloof

In hierdie gedeelte word die dissipels se geloof in besonder getoets.  ‘n Pa bring sy seun na die dissipels toe in die hoop dat hulle hom van die bose gees sal bevry, maar hulle kan nie!

Beleef ons dit nie ook baie nie! In hierdie tyd word ons geloof baie getoets.  Ons glo mense sal gesond word en dan sterf hulle. Ons glo dat Jesus sal ingryp en die pandemie tot ‘n einde sal laat kom en ‘n jaar later is dit erger. In navorsing wat in Suid-Afrika gedoen is glo 47% van die 1600 mense wat aan die navorsing deelgeneem het die pandemie slegs deur gebed opgelos kan word en dat inentings nie sal help nie.  Mense glo, maar dit gebeur nie.

Daarom is dit belangrik dat ons moet bid dat ons nie moet glo in die uitkoms van my gebed nie maar dat ons sal glo in Jesus wat in beheer is en die uitkoms sal bepaal

V14-16 Dan is dit nog die skrifgeleerdes wat met die dissipels staan en redeneer en ek is seker hulle het die dissipels afgekraak en allerhande snedige opmerkings tenoor hulle gemaak het.  Ervaar ons dit nie ook vandag nie?

Beleef ons dit nie ook in die tyd wat mense ons geloof in God bevraagteken nie?  Vrae soos waarom het God dit toegelaat? Waar is God in hierdie pandemie? Hierdie vrae laat ons ook in onsself en ons verhouding met God twyfel.

Daarom is dit belangrik dat ons moet bid dat ons nie sal twyfel in ons geloof en ons verhouding met God nie.

In v 24 Hoor ons ‘n pa wat by Jesus smeek om sy seun gesond te maak.  ‘n Pa wat al als gedoen het en niks wou werk nie, sy enigste toevlug is Jesus.  Jesus antwoord hom: “Vir die een wat glo kan alles.” Die pa antwoord: “Ek glo” roep die seun se pa uit.  En dan die woorde: “Help my waar ek nog ongelowig is.”

Ek glo ons bid en ons bid in geloof en ons hoop dat dinge sal verander. Met hierdie boodskap van vandag moet ons soos die Pa bid: “Here, ek glo, help my waar ek nog ongelowig is!”

Mense is so vinnig om vir ons te sê, Man jy moet net glo! As jy glo sal als regkom.  Hierdie begrip het in 2014 met ‘n baie groot vriend van my by name Jannie Scheepers se dood my geloofsboodjie laat kantel.  Ek het geglo hy gaan gesond word. Daar was nie twyfel nie, ek het gebid en ek het geglo, maar Jannie het gesterf.  Daarna het so baie mense wat naby aan my is gesterf vir wie ek gebid het. “ Vandag besef ek net dat ek soos hierdie pa moet bid: ”Here, ek glo u kan, U weet wat U doen, hierdie is U skepping en elke mens is die kroon van U skepping. My begeerte is dat die persoon gesond moet word, maar help my in my ongeloof om te besef dat dit nie om die vervulling van my begeertes moet gaan nie, maar om U wil!”

Oos: Verhoudings

Die Son kom op in die ooste, net so is verhoudings die lig in elkeen van ons se lewens.  Ons kan nie sonder verhoudings nie, Die wet in Markus 12:30 leer ons: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel, en met jou hele verstand en met al jou krag!  Dit is die vertikale verhouding tussen my en God wat reg moet wees.

Daarom wanneer ons bid vir verhoudings moet ons in die eerste plek bid vir ons verhouding met God. My verhouding asook ander om my se verhouding met God.  Dat daar herstel sal kom in die verhouding tussen God en mens wat deur Jesus moontlik gemaak is.

In hierdie verhaal Is die verhouding tussen die skare en Jesus opvallend, want in v15 lees ons dat die skare na Jesus toe gehardloop het en om verwelkom het.

Dan die verhouding tussen Jesus en die seun waar Jesus in v 27 die seun aan die hand vat en hom ophelp.

In hierdie tyd moet ons bid dat Jesus ons sal vrymaak van die boosheid wat ons elkeen op ‘n eie manier aanval, hetsy deur vrees of haat of onsekerheid of wat ook al en dat Jesus ons aan die hand sal vat en ons sal optel

Dan gaan die wet voor: v31 “Jy moet jou naaste liefhê, soos jouself.”

Die volgende gebed is ‘n gebed vir die verhouding met ons en ons naaste, man vrou, ouer en kinders, werknemer en werkgewer, vriende, geliefdes, watter verhouding daar ookal is waarin jy staan op die oomblik. Bid vir mekaar, by die naam, vir hul spesifieke behoeftes! In hierdie gedeelte is die verhouding van die pa en sy seun vir ons almal ‘n voorbeeld van hoe die pa als moes beleef het waardeur hierdie seun moes gaan en hoe die Pa die begeerte gehad het dat sy kind net gehelp kan word.

Die verhouding tussen die Fariseërs en die dissipels is venynig en foutsoekerig. Ons moet vir daardie in ons lewe bid.

Die derde gebed in verhoudings is die gebed vir jouself

Jy staan in ‘n verhouding met jouself,  Die pandemie en die plundertogte en alles wat op die stadium gebeur het ‘n effek op jou as mens. Bid vir jouself dat jy die lig sal sien in hierdie tyd.  Dat die Here jou van alle kante sal omvou sodat jy in jouself kan vrede vind en die lewe kan leef!

Die dissipels was gerattle in v28:”Hulle kon nie verstaan hoekom hulle nie die gees kon uitdrywe nie!” Wanneer ons in onsself twyfel dan begin ons onttrek en ons begin half afsydig raak en ons gedagtes is ‘n warboel.

Suide: Siekte en finansies of besittings

‘n Groot les wat ek uit hierdie gedeelte geleer het is dat dit nie my gebed is wat genees nie, maar Jesus. Eks seker hierdie dissipels het al hul kennis oor uitdrywing gebruik om hierdie seun gesond te maak, maar hulle kon nie. Die een wat op die einde genees het, was Jesus.  Daar is soveel siek mense om ons en soveel mense vir wie ons bid!

By die pa leer ek van bid sonder ophou!  Vandat die kind klein was het die pa hom oor die seun ontferm en gesoek vir hulp. 1 Tess 5:17 “Bid gedurig!” Bid vir die mense wat siek is, bid vir die mense wat finansieel swaarkry agv die pandemie en die plundertogte. Bid, bid, bid! Moenie ophou om vir mekaar te bid nie soos wat Jak 5:16 vir ons sê en dan die belofte: “Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking!

Weste: Emosionele welstand

Ons moet nie die effek van hierdie pandemie en al die bombardering van negatiwiteit op ons almal het nie. Ons raak terneergedruk, bang, angstig, vrees.  Dit is alles dinge wat ons lewensvreugde van ons steel.

Die dissipels was teleurgesteld, want hoekom kon hulle nie dit regkry nie. Verder was hulle verneder deur die skrifgeleerdes wat hulle onvermoë raakgesien het. Moedeloos beteken niks vir die wêreld nie.  Ons het nodig dat Jesus ons in Sy arms sal optel en naby Sy hart sal hou (Jes 40:11)  Soos wat ons weet babatjies nodig het om die hartklop van hul ouers te hoor om rustig te word.

En dan die Pa se deursettingsvermoë om aan te hou. Om nog een keer te probeer.

Bid vir mekaar en versterk die slap hande en die lam knieë (Hebr 12:12)

v 29: Die enigste manier waarop ons hierdie situasie waarin ons is gaan oorwin, is deur gebed. Moet nooit die krag van gebed onderskat nie.  Gebruik jou kompas en hou jou oog gevestig
op Jesus, die begin en die voleinder van ons geloof.       

   Soli Deo Gloria

Markus 9:14-29 14Toe hulle weer by die ander dissipels kom, sien hulle ‘n groot menigte mense daar rondom hulle en skrifgeleerdes wat met hulle redeneer. 15Die hele menigte was verras toe hulle Jesus skielik sien, en het nader gehardloop om Hom te verwelkom. 16Hy het vir die skrifgeleerdes gevra: “Waaroor redeneer julle met my dissipels?”
17Een van die mense het Hom geantwoord: “Meneer, ek het my seun na U toe gebring omdat hy van ‘n gees besete is wat hom stom maak. 18En elke keer as die gees hom gryp, gooi hy hom op die grond neer. Dan kry hy skuim om die mond en hy kners op sy tande, en sy spiere trek saam. Ek het u dissipels gevra om die gees uit te drywe, en hulle kon nie.”

19Jesus sê toe vir hulle: “Ongelowige geslag, hoe lank moet Ek nog by julle wees? Hoe lank moet Ek julle nog verdra? Bring hom hier na My toe.”
20Hulle het die seun na Hom toe gebring. Net toe die gees vir Jesus sien, het hy die seun geweldige stuiptrekkings laat kry. Hy het op die grond neergeslaan en rondgerol, met skuim om die mond. 21Jesus het vir die pa gevra: “Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?”
22“Van kleins af,” antwoord hy, “en baie keer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak. As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons.”

23“ ‘As U iets kan doen,’ sê jy,” antwoord Jesus. “Vir die een wat glo, kan alles.”
24“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof.”
25Toe Jesus sien dat ‘n menigte mense aangestroom kom, het Hy die onrein gees skerp aangespreek: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou: Gaan uit hom uit en moet nooit weer in hom invaar nie!”
26Die gees het hom laat skreeu en hewige stuiptrekkings laat kry en toe uit hom uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.”
27Jesus het hom egter aan die hand gevat en opgehelp, en hy het opgestaan.
28Nadat Jesus huis toe gegaan het, toe hulle alleen was, het sy dissipels Hom gevra: “Waarom kon ons die gees nie uitdrywe nie?”
29Hy het vir hulle gesê: “Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie.”

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Gebeds Uur – Deel een Dit is ‘n reeks van vier.
Intieme Liefdes verhoudings
Genesing
Gebedsdiens – 4 Julie 2021
Gefokusde Gebed
Geloofsvolharding – deel 2 Dit is ‘n reeks van 4
Plasing No 0315

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *