As Gebou van God, het ons die Ewige Lewe – Joh 11:1-45

Deesdae word ons baie meer gereeld met die dood gekonfronteer.

In die Bybel sien ons meestal vir Jesus as in sy werksklere.

Die Man wat vissermanne moet leer, ‘n Man wat stofpaaie moet loop van dorp tot dorp en sin in mense se koppe probeer inpraat om hulle te laat afsien van die verkeerde wat hulle doen en vir hulle die beter – eerder die beste – lewe van vertel.

Hy gee lesings en vertel gelykenisse sodat die prentjie mense ook kan onthou waaroor die lewe gaan en wat hulle moet doen in die lewe nou en ook die lewe hierna,

Dan sien ons vir Jesus in sy vergadering klere waar hy met die godsdienstige leiers ontmoet om hulle te oortuig dat hulle die Woord van God verkeerd lees en verkeerd interpreteer.  Dat die lewe nie gaan om hulle eie koninkrykies nie, maar oor die Koninkryk van God.

Van dorp tot dorp stap Jesus die leier vooruit en duisende mense volg Hom om Sy wonderwerke te sien waar Hy mense gesond maak, en duiwels uitdryf.  Dis nou ‘n goeie reality show waarvan almal praat, maar wat ek net sal glo as ek dit sien!

Klink dit nie maar soos ons lewe ook nie? Die verskillende stoele waarop ons elke dag moet sit en gin wonder dat ons so emosioneel en fisies uitgeput is nie, want ons moet die heeltyd soos ‘n verkleurmannetjie van kleur verander afhangende van die groep mense by wie ons is.

Maar In Joh 11:1-53 kry ons kans om in Jesus se hart in te kyk. Joh 11: 3-5

Jesus, besig met sy werk , kry die boodskap dat sy geliefde vriend, Lasarus siek is. (Die naam Lasarus beteken God het gehelp). Hierdie tyding is “close to home” Lasarus, Maria en Martha is Jesus se vriende. Mense vir wie Hy lief is. Mense na aan Hom.

Maar Jesus, as Seun van God, weet meer oor hierdie siekte as die mense. Joh 11:4  ”Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word!”

Jesus bly nog 2 dae daar waar Hy besig was oorkant die Jordaan om mense te leer en baie tot bekering gekom het.  Daarna vertrek Hy en die dissipels Betanie toe. Dis normale menslike reaksie.  Hoeveel van ons klim dadelik in die kar en ry na jou vriend toe wanneer jy hoor die persoon is siek? Selfs iemand vir wie jy baie lief is? (dis so uur se stap vir Jesus – so in vandag se tyd is dit so uur se ry….) Wat nog te sê om terug te gaan na ‘n dorp toe waar hulle jou ‘n paar dae terug wou doodmaak? Liefde vir ‘n vriend teenoor liefde vir my eie lewe?

Jesus het geweet Lasarus gaan sterf.  Jesus het geweet Hy het ‘n opdrag om Lasarus uit die dood te laat opstaan, sodat die dissipels kan glo dat Jesus die mag het, want Jesus self gaan uit die dood opstaan.  Die opwekking van Lasarus is dus belangrik vir die geloof van die mense wat daarvan getuies is, want dit is mos makliker om iets te glo wat jy alreeds met jou eie oë gesien gebeur het. (v12-15)

v17) Toe Jesus daar kom het Hy gevind dat Lasarus toe al 4 dae in die graf was.

Jesus was te laat.  Ken meeste van ons nie die gevoel of situasie nie…  Te laat om te groet, te laat om ‘n laaste woord te sê, eintlik was Jesus heeltemal te laat, want Lasarus was al begrawe!

Jou goeie vriend, vir wie jy lief is, is begrawe en jy is te laat omdat jy eers ander goed moes doen.  Omdat jy ander mense se behoeftes voor jou eie behoeftes gestel het. Daar is heelwat van ons wat met hierdie gevoel in ons binneste rondloop. As ek maar net geweet het, sou ek dadelik gekom het. Die lewe het net ‘n manier om ons weg te hou van ons geliefdes in hierdie tyd!

V18. Al wat Jesus nou kan doen is om sy 2 vriendinne te gaan troos en te ondersteun. En Marta wat vir Jesus sê: Plaas het jy vroeër gekom. As jy net gouer gemaak het. Ken ons nie hierdie woorde al te goed nie? – Maar Marta kyk ook verby die Mens Jesus en sien die Seun van God raak in hierdie situasie en sê: “Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

In ons wanhoop het ons nog steeds hoop op God.  Al was Jesus laat, God is in beheer.

 Wat is Jesus se trooswoorde aan Marta:”v23 – “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

Is dit nie maar meeste van ons se woorde nie?  Ons geliefde is op ‘n beter plek, hy het opgestaan. Hierdie woorde van Jesus is woorde van Hoop.

Jesus antwoord in v25: “Wie in My glo sal lewe, al sterwe hy ook. En elkeen wat lewe en in My glo sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” As daar hoop is vir ons wat glo dan gaan ons nie net opstaan nie, ons gaan vir ewig lewe en daar die ewige lewe begin wanneer ek die keuse maak om in Jesus te glo!  Die dood is dan nie meer ‘n finaliteit nie want in Jesus is daar lewe! Die ewige lewe.

Maar ten spyte van die wete van die ewige lewe vertel die 3 woorde van  Joh 11:35 vir ons van Jesus se hart vir sy geliefdes, Jesus het geweet daar is lewe na die dood, maar die seer wat Marta en Maria en die om hulle moes dra het Jesus se gemoed laat vol skiet en Hy het gehuil.

 Miskien lees ek te veel in hierdie woorde maar dit beteken vir my so baie in die hantering van my eie verlies, dat dit okay is om te huil oor ons verlies. Ons hoef vir niemand sterk te probeer wees nie. Ja daar is ‘n ewige lewe en ons weet dat die oomblik wanneer ons sterf op aarde dit nie ‘n ewige dood is nie maar ‘n ewige lewe in die Hemel.

Lasarus was 4 dae dood. Daar is geen manier dat daar weer lewe in hierdie dooie liggaam kan wees nie. Die liggaam het al begin ontbind!  (11v39) Dis te laat! Maar vir God is dit nooit te laat nie. Jesus roep vir Lasarus uit die graf uit en hy word lewend. Jesus was vier dae laat maar nog steeds betyds. Op God se tyd!

Deur hierdie wonderwerk waar Lasarus uit die dood opstaan toon Jesus net weereens God se almag oor die wette van die natuur, en oor die wette van die aardse lewe. Volgens die wette van die natuur kan ‘n persoon wat dood is nie meer lewe nie, maar volgens die wette van God sterf ‘n mens wat in Hom glo nooit nie!

Prediker 3:18-22 Praat die prediker dat die mens maar net soos ‘n dier is wat sterf en net weer stof word. Vanuit ons menslike oogpunt is dit wat gebeur. Ons kan nie sien waarheen ‘n mens se lewensasem gaan nie, maar met Lasarus se opstanding het Jesus vir ons kom verseker dat daar wel lewe na die dood is.

Hierdie wonderwerk het baie mense tot geloof in Jesus laat kom. Nie lank daarna nie, sterf Jesus aan die kruis. Op die derde dag gaan die vroue om sy liggaam te balsem en Jesus het opgestaan uit die dood. Hy is nie meer in die graf nie en Hy het aan mense verskyn wat getuies is daarvan! Deur Jesus se opstanding word Joh 11:25,26 waar: Hy is die opstanding en die lewe.” Want Hy het opgestaan en Hy lewe en daarom sal elkeen van ons wat in Hom sterf ook opstaan en lewe!

Glo jy dit?

Amen

Soli Deo Gloria

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Anderkant Die Blou Berge
Tou Opgooi
Ons Weet Wie Jesus Is
Gebedsdiens – 4 Julie 2021
Veronderstel Ons Is Besig
Plasing No 0327

Leave a Reply

Your email address will not be published.