Borsel Jou Tande

TANDEBORSEL EN GEBED IS LEWENSWYSES

Ek hoor nou die dag ‘n mamma vir haar kind vra : “het jy jou tande geborsel “  Weet julle, gebed is soos tandeborsel. Ons kan nie sonder gebed deur die lewe gaan nie. Gebed is ‘n leefwyse.

Ons is so geneig om vir ons self en eie belange te bid dat ons vergeet om God te loof en prys vir Wie Hy is . Hy is die Almagtige , Skeppergod van alles en almal. Hy is die Heerser oor alles en almal, maar tog gaan ons net met ons lysie na Hom.  God wil hê dat ons met Hom moet in gesprek tree. Hy Wil jou stem hoor. Jesaja 1:18 “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak.”

Wanneer ons tandeborsel haal ons al die vuilheid en plaak van ons tande af. So is dit ook met gebed. Wanneer ons tot God Drie Enig nader, nader Hy tot ons. Ons gees en Sy Gees maak kontak. Jakobus sê : “Nader tot God en Hy sal tot jou nader.” Nog meer, dit wat klou en ons weerhou om die mens te wees wat God gemaak het, word verwyder.   Jesaja 1:18b “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos sneeu.”

Wanneer ons al ons kommer en sorge voor Hom lê, vergifnis vra en ons hart oopmaak vir Hom, gebeur daar iets. Ons kom verkwik en skoon daaruit. Ons voel fris en vars. Wanneer ons praat, spreek ons lewe en mense vlug nie weg van ons af nie.Spreuke 18:21 “Die tong het mag oor dood en lewe.“

Ons is so ywerig om ons kinders higiëne te leer, maar leer ons, ons kinders regtig hoe om te bid? Gebed is ʼn opdrag!  Filippense 4:6b “maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.” Bid binne God se wil. 1 Johannes 5:14 “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra.”

 Wanneer jy volgende keer jou tande borsel of jou kind herinner om dit te doen, dink daaraan: Die tandeborsel wat ek in my hand het, is ek wat iets doen. (Nader tot God).
Die tande paste wat ek opsit – Iets wat ek inneem. Jy kan nie tande borsel sonder om dit te proe nie. (Neem God se Woord in en bid dit)
Wanneer jy jou mond uitspoel – spoeg jy vuilgoed wat losgekom het uit. (God maak jou skoon/ rein)

Jakobus 5:16 (Afr ’53) “Bely mekaar se misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.”

Mag gebed deel van ons elkeen se lewenswyse word sodat ons daardeur God Drie-Enig verheerlik!
Mag ons almal mooi skoon wit tande hê!

Lekker tande borsel!

Groete

Duimpie
Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Sement
Die Kerk Vir Vandag
Raad Vir Elkeen
Ons Weet Wie Jesus Is
Kyk Ek Staan BY Die Deur En Klop
Iets Baie Besonders
Waarom moes Jesus as mens gebore word?
Plasing No 0259

.

Leave a Reply

Your email address will not be published.