Die Tien Gebooie – Deel 2

Verlede maand het ons na die eerste 4 gebooie gekyk.  Net om jul geheue te verfris herhaal ek die eerste vier net kortliks.

Die eerste gebod is om God eerste te plaas.

Die tweede gebod is om  net vir God te dien.

Die derde gebod is om respek vir God se Naam te he.

Die vierde gebod is om God se Dag te heilig.

5.
Die vyfde gebod is om respek vir ons ouers te hê. Ons dink partykeer ons het hulle nie nodig nie, of dat hulle net lelik wil wees as hulle nie vir my goed wil gee of laat doen nie.  Maar God het hulle spesiaal vir jou gekies omdat hulle sal weet wat die beste vir jou is.  Onthou jou ouers was ook eenmaal kinders soos jy, en daarom wil hulle jou beskerm en help om nie dieselfde foute te maak as wat hulle gemaak het nie.

6.
Die sesde gebod se om nie ander mense seer te maak nie. Sjoe!  Dink bietjie as almal hierdie een gehoorsaam het, sou dit nie nodig gewees het om tronke en hospitale te hê nie, of te straf nie!

7.
Die sewende gebod is vir mense wat getroud is.  God vra dat ons getrou in ons huwelike moet wees.  Hy wil he dat ‘n man vir ‘n vroue moet lief wees en hom/haar met respek moet behandel (al werk hulle soms op ‘n mens se senuwees!)

8.
Die agste gebod is moenie steel nie.  Dit beteken dat mens nie iets moet vat wat nie joune is nie.  So maklik soos dit!

 9.
 Amper klaar!  Die negende gebod se ons mag nie jok nie. Dit is mos altyd beter om die waarheid te vertel, of om liewer nie iets te doen waaroor jy hoef te jok nie, ne!  Meeste van die tyd is dit in elk geval simpel goed waaroor ons gejok het en dan weet ons ouers in elk geval ons het gejok.  En as hulle jou nie uitvang nie, kan God alles sien en hoor.  Dit laat mens sommer net nie lekker voel nie.

10.
Die laaste gebod is moenie jaloers wees nie.  Dit beteken dat ons nie moet wens ons het goed gehad wat iemand anders het nie.  Ek weet daar is altyd ‘n nuwe speelding of so – daar is altyd iets wat ons ook graag sou wou he.  Maar hierdie dinge is nie regtig belangrik nie – hulle maak ons nie so gelukkig soos wat God ons kan maak nie.

   Hierdie lysie lyk seker onmoontlik om altyd na te kom, en dis waar – ons kom dit nie altyd na nie!  Ook nie pappa en mamma en die juffrou nie.  Dit is hoekom ons moet bid, elke dag, vir God en Hom moet vra om ons te vergewe en ons beste te doen en nie weer die verkeerde goed doen nie.

Groete,

Oom Jan

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Die Tien Gebooie
Die Tien Gebooie – Deel 1
Kyk Ek Staan By Die Deur En Klop
Juig en Wees Bly
Ons Word Dopgehou
Elkeen Het n Doel
Plasing No 0324

Leave a Reply

Your email address will not be published.