God se Ritme in ons lewe

Deur Johan Brink

Wat ‘n voorreg.  Dit is wintervakansie en ons is op pad Wildtuin toe vir ‘n paar dae.  Hier is die Noorde is wintervakansie vir baie van ons sinoniem met ‘n vakansie in die Wildtuin of iewers op ‘n bosveldplaas.
Hoekom geniet ons dit so om in die veld tussen die diere te kom.  Ons het dit alles mos al lankal gesien. Dit is mos nie nuut nie, dit is ook nie snaaks of vreemd soos ‘n nuwe TV program nie. Ek dink dit is juis omdat dit gewoon en oud is. Omdat dit rustig is soos God dit gemaak het.

“Ieder woelt hier om verandering,” lui die bekende Nederlandse spreekwoord.  Mense is van nature onrustig, ontevrede, verlangend na meer.  Ons beur almal altyd na meer en beter. Ons wil nie tevrede wees met wat ons het en waar ons is nie.  Ons kan nie rustig word nie want dan voel ons skuldig.  Dit is so anders as wat ons in die diereryk sien waar daar soveel tekens van vrede en tevredenheid is.  Van koning Leeu wat lui en tevrede gaap, tot krokodille wat in die wintersonnetjie op sandbanke bak, of miskruiers wat geduldig hulle hele insek-lewetjie bolle rol, is daar tevredenheid in die diereryk.  Herbivore kou geduldig dag in en uit die blare of gras wat hulle nodig het en die roofdiere is tevrede om net voldoende kos te vang, en dan die rustige gang van hul lewe te gaan. Maar nie ons mense nie.  Ons bly ontevrede en gejaagd.

Die antwoord is om vrede in God te vind.  Tevredenheid is in die eerste plek gewortel in ons belydenis dat God, die almagtige Vader, die Skepper van die hemel en die aarde is. Hy is ons Voorsiener. Al die skatte is syne. Trouens, Hy het dit met sy eie hande gemaak. En daardie God is ons Vader. Hy sal vir ons sorg. Ons sien dit juis so mooi in die natuur. Juis daar in die natuur leer ons in God se algemene openbaring so baie:

Die lelies wat sê – wat bekommer jy jou so, God sal sorg.
Die mossies wat sê – God weet alles van jou af.
Die bome wat sê – dra vrugte wat pas by die bekering.
Die berge wat sê – Hy in wie jy glo staan onwrikbaar vas.
Die seisoene wat sê – Sy ritme van lewe is op tyd, hou op jaag.
’n Gewone blom, ’n alledaagse brander,  ’n gemiddelde boom as skaduwee teen die son, word ’n sakrament van God se sorg en die skoonheid en rykdom waarmee Hy ons oorlaai. 

Die lewe is soveel makliker en mooier vir mense wat vrede in God vind.

 Groete in Christus,

Johan Brink

Sien Ook
Juig Tot Eer Van God
Leer Om OP God Te Vertrou
God is Altyd Daar

Plasing No 0209


Foto Danksy Topi Pigula

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *