Iets Baie Besonders

 Verlede maand het ons nuwe boeties en sussies in God se Familie in verwelkom, maar wat nou? Vir sommige mense is daar dadelik ’n verandering maar vir ander nie… as jy een van hulle is het ek baie goeie nuus. Dalk het jy iets meer verwag van hierdie moment? Flitsende ligte, singende engele of dalk selfs ‘n aardskudding. Moenie bekommer en dink daar het niks gebeur nie.

Die Bybel, wat die waaragtige Woord van God is, sê dat die hemelwesens juig as ‘n sondaar hom of haar bekeer. Ons kan die belangrikheid daarvan volkome glo. Iets baie besonders en van ewigheidswaarde het beslis gebeur.

Tydens werklike berou oor sondes en bekering en oorgawe aan God, word die sondaar gereinig van alle ongeregtighede en sondes. Deur die geloof in Jesus Christus as Redder, word ons ‘n nuwe skepsel en die Heilige Gees is in ons hart. Die ou gevolge mag dalk nog daar wees. Geldelike probleme, hartseer, eensaamheid, siekte of een van ‘n tienduisendtal ander dinge, want ons lewe nog in ‘n gebroke wêreld, maar anders as voorheen, is God nou in beheer van jou hart en lewe.
Hy is Almagtig en sal bemoeienis maak met al die bekommernisse en jou lei en help om rondom of deur die sake te kom. Sy wil sal Hy nou tot volvoering bring in jou lewe. As gelowige kan ons ook vas staan op die belofte in Romeine 8.28. “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na Sy voorneme geroep is.”

Die Bybel, Gods Woord, deur die werking van die Heilige Gees, leer mens alles wat noodsaaklik is om te leef en die geloofspad in oorgawe te loop.

Soos ons, God se kinders, daagliks na Hom toe gaan in gebed en ook Sy Woord lees, sal Hy Homself al hoe meer aan ons openbaar. Daar leer ons Sy liefde, blydskap, vrede en oorwinning oor sondes ken. Die werking van Sy Heilige Gees in en deur ons lewens word al hoe meer ‘n werklikheid. God is nie meer doer ver iewers, of die ou oupatjie wat belaglik is en niks kan doen en sy skepping vergeet het nie. Sy Almagtigheid word al hoe meer sigbaar. Hy word ‘n vaste realiteit, wat ons daaglikse bestaan skep en ons dade beïnvloed.

Enkele belangrike sake om op te volg na jou oorgawe aan die Here, is die volgende:

Lees en bestudeer die woord van God (die Bybel) 1 Pet 1:23 – “want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly.”  

Spandeer elke dag tyd in gebed [dit is jou geestelike asemhaling];  1Ti 2:8  “Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis” 

Vertrou die Heilige Gees om jou te lei in die volle Waarheid van God se Woord.  [1 Joh 2:27b – “..Sy Gees leer julle alles,  en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie.” 

Wees ‘n getuie vir Jesus (in woord en daad) :  Hand 1:8  “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde”.

Dit is baie belangrik om te weet dat God nie iets op jou pad sal bring wat jy nie kan hanteer nie, so wees rustig. Wanneer dit voel asof dinge nie vinnig genoeg gebeur nie sien dit eerder as ’n voorbereiding vir wat God vir jou beplan. ’n Pas gebore baba eet nie dadelik vaste kos nie.

Liefde Groete, 

Die Ontdekker.

Nog Sielskos vir Die Lewensreis
Wikkel Jou Tone
Its About Time
Geloofsvolharding – deel 3
Geloofsvolharding – deel 4
Die Here is sy vyande ver voor
Raad Vir Elkeen

Plasing No 0235

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *