Kambrokind

Hoe het ander voor ons, deur sulke krisis tye gekom?

Die artikel het op Whatsapp verskyn en is baie keer aangestuur. Of die skrywer doelbewustelik gedoen of dit aangestuur sonder toestemming weet ek nie. So, alle erkenning aan die skrywer en dankie vir die gebruik daarvan. Dit gaan oor oorlewing in die tye van die Groot Griep van 1918, Die Groot Droogte (vroeë 1930’s en Die Groot Depressie (1929 – 1933)

Herman en Nellie Venter het in die Britstown omgewing geboer. Hulle het ‘n seun, Frans wie op 27 November 1916 gebore is.

Met die uitbreek van die Groot Griep van 1918 was Frans nog nie twee jaar oud nie. Die Spaanse griep het sy pa en sy ma ondergekry en albei was destyds vir ‘n dag of twee bewusteloos in die bed weens die ontsettende koors en suurstofnood.

Nellie het eerste haar bewussyn herwin en vir klein Frans op die grond langs die bed gekry, waar hy weens honger en dors gesuig het aan die tosseltjies van sy ouers se beddeken.

Die Venters het die Groot Griep oorwin en Frans se ouers het herstel. Aangesien klein Frans altyd gelukkig en lewenslustig gebly het, selfs in die droogste en moeilikste tye, het sy ma hom haar “kambrokind” genoem.

Die kambro is ’n tingerige Karoo-plantjie waarvan die groenbruin blaartjie altyd vars lyk, selfs in die droogste, moeilikste tye.

Frans het grootgeword en was op pad Hoërskool toe, toe die Groot Droogte uitbreek. Hy het sy skoolloopbaan onderbreek en saam met sy ouers ‘n swerwersbestaan begin voer op soek na weiding vir hulle kleinvee-trop wat elke dag gekrimp het weens massiewe vrektes.  Uiteindelik het hulle staanplek gekry in die Kalahari, nadat hulle nie die grens na Suidwes-Afrika kon oorsteek nie.

Die Venters het oorleef danksy die ontferming van familie en medemense. Nogtans het hulle byna alles verloor wat hulle voor die droogte gehad het.

Frans het in 1934 aan die Hoërskool Hopetown gematrikuleer as een van die top-matrikulante van die destydse Unie van Suid-Afrika. Hy het op Stellenbosch gaan verder studeer en sou uiteindelik bekend word as die skrywer en Hertzogprys wenner, FA Venter, met boeke soos Swart Pelgrim, Gelofteland, Bedoelde Land, Geknelde land, Offerland, Werfjoernaal, Die middag voel na warm as, Man van Ciréne Kambrokind, Die ou man en die duif, Die keer toe ek my naam vergeet het, en die Koning se Wingerd.

Sy boek, Kambrokind vertel juis die verhaal van sy grootword jare in die moeilike tye van die Groot Griep, die Groot Droogte en die Groot Depressie. Daar is vandag, tydens Suid-Afrika se inperking weens die korona-virus pandemie, vir ons lesse te leer uit die lewe van die kambrokind, Frans Venter.

Die eerste is juis in die voorbeeld van die nederige kambro-plantjie wat vars en lewenslustig bly ten spyte van die felste droogte. Moenie dat die situasie jou oorweldig nie.  Fokus nie op die situasie nie, fokus op God.  As jy sukkel daarmee, lees bybel.  Dit help om my rustig te maak.  Ek maak net eenvoudig die Bybel oop en lees.  Hoofstukke en hoofstukke daarvan.  Dit maak my rustig.  Dit gee my HOOP. 

Die tweede is dat die wêreld en die lewe sal voortgaan ten spyte van die krisis, maar dat totaal nuwe maniere van doen begin posvat omdat die gemaksones van ons bestaan vir lank genoeg versteur was om nuwe maniere van doen te begin gebruik.  Ek sit hier in die Strand en kyk uit oor die see.  Nog nooit het ek hier uitgekyk en geen mens (in die dag of in die nag) gesien nie.  Geen mens en geen motor.  Vandag het hier robbe in die water kom baljaar.  Dis asof die natuur juig, want die natuurlewe kan weer funksioneer sonder dat daar mense naby is.

Die derde is dat herstel en gewoonlik geweldige groei altyd volg na elke skynbaar vernietigende krisis. Dit het gebeur na die Groot Griep van 1918, diedie Groot Depressie van 1932 en die Groot Wêreldoorloë. Ons kan verwag dat dit na die korona-krisis ook sal gebeur, ons moet net uithou. Hoop net ons neem die lesse wat ons hieruit leer met ons saam die toekoms in.

Die laaste is dat ontferming oor ons medemens noodsaaklik is, dikwels nie net wille van ons medemens nie maar ook ter wille van onsself. Welwillendheid keer altyd terug na die wie dit uitdeel. Daar is soveel “mekaar” tekste in die Woord. 

Julle moet mekaar liefhê.
Julle moet na mekaar omsien.
Julle moet mekaar aanmoedig.
Julle moet mekaar vermaan.
Julle moet mekaar verdra.
Julle moet mekaar vergewe.
Julle moet mekaar groet.
Julle moet vir mekaar bid.

Die mens is nie volledig mens, sonder sy of haar medemens nie.

Ons gaan dus hierdie krisis oorkom en ons gaan sterker anderkant uitkom. Ons is nie verniet kambrokinders van hierdie bedoelde land nie.

Nog sielskos vir die lewensreis
Liefde en Omgee
Liefde Is
God Se Vyf Vinger Plan
Woestyn Pad
Gebeds Uur – Deel een
Jou Denke Bepaal Wie Jy Is
Moenie Mislei Word Nie

Plasing No 0290

Foto Danksy Wikipedia en Amada44 in terme van CC lisensie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *