Laat Die Kindertjies Na My Toe Kom

Lag ‘n bietjie daar


Hierdie is seker een van die wonderlikste tekste in die Bybel en ek beleef dit elke Sondag wanneer ek die kindertjies nader roep vir hulle 10 minute in die diens.  Dis vir my so ‘n onsettende groot voorreg om die kindertjies so saam te sien sit en te hoor wat in hulle hartjies aangaan.

   Ek wil graag met u ’n paar oomblike deel van alles wat daar voor gebeur.

   Een Sondag het ek oor Sonde gepraat en vir die kindertjies gevra wat is sonde. Ja, al die regte antwoorde het opgeklink, totdat een meisie met handjie in die lug uitroep “Jy mag nie middelvinger wys nie!”

  Net na ‘n Nagmaal, kom ‘n seuntjie ewe kordaat na my toe aangehardloop, baie in sy noppies oor wat hy geleer het: “Henning, Henning, die brood is die vleis en die wyn is die koeldrank!”

   Een van die mees onlangste opmerkings was oor die vraag van watter boom Adam en Eva ge-eet het? En die antwoord was hard en duidelik: “van die gifboom!”

Dit is nie net die kleintjies wat gesorg het dat daar humor in die kerk is nie, maar ook die groter kinders. Hier is ‘n paar antwoorde uit die toets wat hulle so pas geskryf het.

    Vraag:

Van watter boom het Adam en Eva ge-eet waarvan die Here hulle verbied het?

 A1) Die Boom wat die lekkerste vrugte gehad het.
A2) Die middelste
A3) Vye boom
A4)Perskeboom
A5) Die giftige boom waarin die slang was
A6) Die boom van probleme en Geweld

    Vraag:

Hoekom het Kain vir Abel doodgemaak?

A1) Want Abel was beter
A2) Want hy wou alles erf.
A3) Om die enigste seun te wees
A4) Abel was so te sê die witbroodjie
A5) Want Abel was sy pa se oogappel
A6) Want Abel was ‘n reus en hy het gedink hy sou alles kon doen.

 Wat ‘n voorreg om met kinders te werk en te hoor hoe hulle God ervaar en raak-sien dat Hy ook vir hulle lief is!    Ek kan nie wag vir elke Sondag se kuier met die kindertjies nie, want die koningkryk van God behoort juis aan hulle!

Nog Sielskos vir die Lewenspad
Speel Saam – Blokkiesraaisel – 1
Speel Saam en Teken – 1
Speel Saam – en soek vir Moses
Nuwe Plasings

Plasing No 0079

Leave a Reply

Your email address will not be published.