Laat Heer U Seën Op Ons Daal

As plaaskind is die afhanklikheid van reën seker een van die emosies wat nooit uit mens verdwyn nie.  In die stad is dit maklik om sonder reën klaar te kom, jy maak die kraan oop en daar is water. Jy sit ‘n sproeier voor aan die tuinslang en vergeet van die derduisende druppels water wat uitgeforseer word om die dorre aarde te benat.

  Maar op die plaas werk dinge anders.  As ons vergeet om die windpomp los te draai, dan loop die watertenk leeg en wanneer jy die kraan met verwagting oopdraai is daar net die laaste paar druppels wat met moeite die kraan verlaat na die onbekende bestemming.

  As plaaskind het die droogtes ook my verstaan van “Soos ‘n wildsbok wat smag na water….” kom inprent waar die skape blêrend om die watertrog kom staan in die hoop op ‘n druppel watter omdat die veld so droog is dat die gras kluite word in hulle monde.  Die ongenaakbaarheid van droogte op die dragtige koei wat haar forseer om haar ongebore kalf te aborteer omdat daar geen voedingstowwe in die dor verbrande gras is nie.

  Ek onthou van die droogte waar ons op die plaas tree vir tree gestap het en gesmeek het vir reën.  Biddae vir reën het gesorg vir stampvol kerke waar boere voor God kom neerval vir die opening van die sluise van die hemel!  “O God, wees ons sondaars genadig!”

  Hier in Mindalore herleef ek weer die droogte van die laat tagtigs in my geheue, die beeste is bene met stuk harige oortreksels  Here, moenie dat die bees gaan lê nie, want dan gaan hy vrek!  Elke aand word die weervoorspelling met hoop gekyk en ‘n snybare stilte het geheers as daar geen reën voorspel word nie.

   Een middag laat het ou Simon opstal toe aangehardloop gekom, “Baas Willie, kom kyk! “ Daar was kraanvoëls wat oor die plaas gesweef het, hoog in die lug in sulke wye draaie.  “Baas Willie, Kleinbasies, onse Ou Baas het die voëls gestuur wat die krane van die hemele oopdraai!”  Die reën is hier!!”  Ou Simon het gehuil en lag deurmekaar. Ons het nie verstaan nie, want daar was nog nooit Kraanvoëls op ons plaas, Avondsrust, nie.

    Dit lyk kompleet of die voëls die wolke saamdraai, dit raak donker. Druppeltjie vir druppeltjie word die kraan van die hemel oopgedraai.  Kalwers wat lewensloos was, begin bokspring,  die lammertjies dans asof dit al is wat hulle hul lewe lank nog doen…..

   My gedagtes was vêr hier waar ek voor die oop deur van die pastorie staan en kyk na die eerste reëns wat val vir die nuwe seisoen van 2013.  “Laat Heer, U seën op my daal!”

Liefde

Henning

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Bid en bly op die smal pad
Veertig Dae en Veertig Nagte
Sement
Juig tot eer van God
Selfbeheersing
Geloof en Rykdom
God se Ritme in Ons Lewe
Job
Plasing No 0230

Leave a Reply

Your email address will not be published.