My Hulp kom van dié Here – Ps121

Ps 121:1 is ons gemeente se Jaartema vir 2022.  Met die geskiedenis van die afgelope 2 jaar is dit goed dat ons  ‘n plan of ‘n strategie het van hoe ons hierdie jaar met sy uitdagings gaan aanpak.

Treetjie vir Treetjie

Ons ken mos die gesegde “Hoe eet ons ‘n olifant…  Happie vir happie.”  Kom ons kyk hoe Dawid vers vir vers vir ons voorstel dat ons ‘n Berg treetjie vir treetjie moet klim en die jaar moet tackle om die beste van hierdie jaar te maak.:

v1: “Ek kyk op na die Berge- Waar sal my hulp vandaan kom?”

As kinders het ons baie in die Drakensberge gaan stap. Dit was altyd ‘n uitdaging! wanneer jy in die parkeerterrein staan en opkyk na hierdie majestieuse berg voor jou en jy al klaar wonder hoe jy daar bo gaan uitkom!

In die Bybelse tyd was die berge vol van struikrowers en omdat mense te voet gereis het, was hulle maklike teikens vir hierdie rowers.  Ons weet dat ons hierdie jaar moet deur, maar ons weet ook dat daar in hierdie jaar struikrowers in die vorm van omstandighede of gebeure, of situasies gaan opduik wat ons van die genot van die jaar gaan steel!

Om te stap moet jy genoeg hulpmiddels by jou hê: Water, goeie stapskoene, gemaklike rugsak, kos, ‘n stapstok, energie byvoegsels ens. Sonder hierdie hulpmiddels gaan ons maar sukkel op tot bo te kom.

Met watter hulpmiddels gaan ons 2022 kan aandurf?

Die belangrikste is dat ons moet weet dat ons hulp kom van God: Ons moet die vaste hoop hê dat God ons sal help om die Berg van 2022 te klim, soos Dawid dit stel in Ps 146:5 “Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.”

 v2 maak dit nog duideliker, “Die Here wat Hemel en aarde gemaak het.”  ‘n Berg wat vir ons na ‘n onmoontlikheid lyk is vir God niks, want Hy het die hemel en die aarde gemaak.  Die jaar wat vir ons voorlê is vir God niks, want Hy is in beheer van tyd, soos Hebr 13:8 dit stel:”Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid!”

Kies die regte Stapgids.

Om in die Berge te gaan stap is dit altyd wys om ‘n ervare stapper wat die omgewing ken, saam met jou te hê.  Wie beter as die een wat die berg gemaak het moet saam met jou stap. Daarom is dit nodig dat ons seker maak dat God ons stapgids vir 2022 sal wees.  Daarom is vandag se Nagmaal ‘n geleentheid om God uit te nooi om 2022 saam met jou te stap.

v6 Brei nog meer uit.  God was die skepper van die dag en die nag.  God ken die gevare van dag en nag. Vir God is niks verborge nie! (Jer 16:17) Wat vir my nog meer uit hierdie vers vir die jaar uitstaan is dat dit nie die skepping is wat ons seermaak nie, nie die son of die maan nie. As jy berg klim, is dit nie die berg wat jou seermaak nie, maar die mense en ander kere jyself.

Hoe sal God ons helper wees in 2022?

1)
v3)Hy sal nie toelaat dat jy struikel nie. – Op so ‘n Bergklim ekspedisie is een van die grootste gevare om te struikel en so seer te kry! Op party plekke is die paadjie maar nou en die afgrond is hier by jou. Juis daar moet jy nie struikel nie. 2022 gaan sulke nou paadjies naby hoe afgronde hê. Dis in daardie moeilike omstandighede wat ons moet weet dat God ons sal vashou, dat ons nie as gevolg van gebeure of omstandighede gaan struikel en seerkry nie. 

Hoe keer God dat ons struikel?

a)
Ps 119:125 gee vir ons nog meer sekerheid dat op daardie nou en ongemaklike paadjies, ons ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet het.  Spreuke 4:11 beklemtoon dit: “Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte koers laat loop.”

b)
Verder verseker die Here ons ook dat Hy ons op die paaie van geregtigheid sal lei tot eer van Sy Naam! (Ps23:3) 

c)
Daarom moet ons Ps 143:10 gereeld bid: “Leer my om U wil te doen, want U is my God! Laat U Goeie Gees my op ‘n gelyke pad lei!”

 d)
Ons struikel ook makliker wanneer ons die verkeerde pad vat en daarom bevestig die Here ook in Jesaja 30:21 dat “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs!”

2)

 v4 Ons Beskermer sluimer nie in nie en slaap nooit nie.

Ons het altyd in die grot “Die Kraaines” geslaap daar bo op die Berg.  Met so ‘n stap in die Berge is slaaptyd maar altyd gevaarlik, jy weet nie wat daar rondloop nie, as jy ‘n draaitjie wil gaan loop kan jy nie altyd voor jou sien nie en is die kans goed dat jy kan seerkry.

Elke jaar het sy donker tye.  Tye waar ons moeg is en tam is en nie so wakker is om die gevare om ons raak te sien nie!

in 2022 kan ons verseker wees dat in daardie tye, God wakker is en by ons is en nie slaap nie.  Daarom hoef ons nooit bang te wees nie, al is dit hoe donker om ons. Jos 1:9 gee die Here vir ons die versekering nee nog meer, Hy gee vir ons ‘n opdrag: “Wees sterk, wees vasberade, Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” 
Verder weet ons ook wat Ps 23 vir ons sê: “Al gaan ons deur die donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my, in U hande is ek veilig.”

3)
 v5 Die Here Beskerm jou, Hy bewaar jou van alle gevaar en v7 Jou lewe sal Hy beskerm.

Hierdie is maar altyd ‘n bittere moeilike teks om te verstaan, want as God ons dan beskerm en bewaar, hoekom gebeur slegte goed dan met ons. Daar is al duisende boeke hieroor geskryf en baie mense het hul geloof in God verloor omdat hulle voel dat God hulle verlaat het en in die steek gelaat het toe hulle dit die nodigste gehad het en daarom hou God nie Sy belofte van Jos 1:5 wat weer in Hebr 13:5 bevestig word nie.

Vir my persoonlik is Rom 8:28 die antwoord op hierdie redenasie: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet, die wat volgens Sy besluit geroep is.” Slegte goed gebeur met slegte en goeie mense, wat met ons gebeur kan ons nie altyd verklaar nie en dit is moeilik om dit te verwerk, maar God beskerm ons juis deur ons voor te berei om dit wat kom.  Hoeveel keer het iets nie al gebeur en wanneer jy daaroor dink dan besef jy, maar God het my hierop voorberei nie.  En dan ook na die gebeure weet jy dat God die pad saam met jou stap. God beskerm jou lewe deur Joh 3:16 – Vir ons op aarde gaan dit meestal primer oor ons aardse lewe, maar vir God gaan dit oor ons ewige lewe!

Ons almal kan getuig van hoe God ons in ons lewe al beskerm het.

v8 Hy sal ons in die Jaar beskerm en bewaar, en die belangrikste is dat Hy ons lewe vir die ewige lewe sal bewaar.

Ps 139:1-12 stel God se alomteenwoordigheid baie duidelik: in 2022 sal God altyd daar wees, maak nie saak hoe hoog of hoe moeilik of gevaarlik die berg is wat jy moet uitklim nie. God sal jou help.

Soli Deo Gloria

Plasing No 0358

Foto:- Die Matterhorn Switserland/Italië

Fotograaf : chil, on Camptocamp.org – Derivative work:Zacharie Grossen, (CC BY-SA 3.0) via Wikimedia Commons.

Leave a Reply

Your email address will not be published.