Ons Jeug is ons trots!

Kersboodskap van die Jeugleier Span

So staan ons weereens aan die einde van nog ‘n jaar. ‘n Tawwe een met baie uitdagings, maar weereens het nie een van die uitdagings ons onder gekry nie. Ek kan nie anders as om te dink aan die bekende Voetspore verhaal nie. Daar waar ons net een stel spore in die sand van 2021 kon sien, was daar waar Jesus ons gedra het!

Ons kon lekker lag, en saam gesels. Ja, ons moes maar aan die begin eers weer oor die rekenaarskerm of selfone gesels het, maar ons kon hierdie jaar op ‘n hoë noot afsluit met heerlike afsluiting funksies, en ‘n stampvol kerk met prysuitdeling, sertifikate, lekkernye en sjokolades wat my soettand sommer laat uitval het!

So deur die loop van die jaar het ons dingetjies wat nie normaal was nie, deel van ons normale lewe gemaak, en ons het seker gemaak dat ons dit waarvoor ons geroep was kon oordra na ons jeug. Die hartseer feit is dat baie ander kinders in ons gemeenskap nie hierdie geleenthede gehad het nie, as gevolg van kerke wat hulle deure moes sluit, en jeug bedienings wat letterlik vir nog ‘n jaar op ys geplaas was.

Ek het ‘n verskriklike groot trots in my om te kan getuig hoeveel die Sondagskool en als wat daarmee gepaard gaan, vir ons Jeugleiers en vir ons kinders beteken het. NG Mindalore se jeug het beslis Geen Perke (NO LIMTS!). Met ons oë gerig op die Vader, Jesus aan ons sy en die Heilige Gees in ons harte, het ons weereens so baie dissipels vir Jesus verwerf!

Ek wil ‘n besonderse groot dank uitspreek aan elke ouer, groot-ouer en voog wat seker gemaak het dat hulle kinders deel kon wees van ons jeug bediening vir 2021. Dankie vir elke Sondag oggend se vroeg opstaan vir kinderkerk, vir die rondsit en geselsies maak terwyl Little Warriors aan die gang was, en vir elke laatmiddag/aand opoffering om No Limits bywoning vir ons kinders moontlik te maak.

Ons was dalk nie elke Sondag stiptelik op tyd nie, maar ons kon die beste maak van die tyd wat ons gehad het. Daai paar minute “oortyd” en die help met opslaan en afslaan van ons klasse na die tyd word onvoorwaardelik waardeer. Ons is nou in daai effe rustiger tydjie waar almal kan afskakel en net die liefde van Jesus, en die samesyn van familie en vriende kan geniet.

Laat ons hierdie tydjie ook gebruik om te besef hoeveel dit deur die jaar vir ons kinders beteken het om by die kerk te kon wees, en saam met maats te kon leer van die Bybel. Ek salueer julle. Hierdie verantwoordelikheid is nie so klein soos almal dink nie, en ons Jeugleiers wil julle weereens uit die diepte van ons harte daarvoor bedank!

Die belangrikste, natuurlik, is ons kinders, sonder julle sou Kinderkerk, Little Warriors en No limits nie veel beteken het nie. Dankie dat julle elke week met glimlagte en ywer opgedaag het om van Jesus te leer. Ek weet hoeveel dit vir elkeen van julle beteken. Julle is awesome!

Werk hard aan julle verwagtinge vir 2022, en ek is vreeslik opgewonde om volgende jaar van julle te hoor! Ons het ‘n stampvol program vir volgende jaar, en ek hoef nie twee keer daaroor te dink om julle te verseker dat 2022 nog meer awesome as 2021 gaan wees nie! Julle is elkeen spesiaal, en het elkeen ‘n spesiale plekkie in ons harte (ja, elkeen!). Ons Jeugleiers se harte is groot, en ons hande staan vir niks verkeerd om te verseker dat ons saam die 2022 paadjie stap!


Onthou om vir mamma en pappa te vra om daardie blink munte en bruin note bymekaar te skraap vir ons hoof fondsinsameling van 2022. Ons kort nog R9000 om die kostes van ons jaarlikse jeugkamp te dek, en ek glo dat ons deur die genade van Jesus ons teiken sal raakskiet.


Daai pragtige eerste prys skildery sal darem maar mooi lyk in enige huis, so moenie terughou nie, die voorloper van die skildery is ‘n maklike R500 voor, en wie weet, dalk wen jy nog die lekkergoed hamper ook, dan is ek nie dieenigste een wat ‘n soet tand kwyt gaan wees nie!

Dankie vir ‘n vreeslike lekker 2021, en as jy daarmee saamstem, wag net vir wat 2022 vir ons inhou!!!


Geniet elke oomblik van die vakansie, en onthou, as Jesus dit nie saam met jou kan doen nie, moet dit eerder nie doen nie! Wees veilig, reik uit na mekaar, chat op ons whatsapp groepies, en deel daai vakansie fotos (ek gaan die tuinroete doen, voortuin na agtertuin). Geseënde Christusfees, en mag Jesus steeds ons Leidsman vir 2022 wees!

Mis julle al klaar tonne en tonne!

Baie liefde en groete,

Adriaan en al die Jeugleiers.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *