Raak Sentimenteel Oor Mekaar

Ons raak soms sentimenteel oor baie dinge, kinders se eerste tekenprentjie, ‘n geparste blommetjie met spesiale herinneringe, ‘n bak wat Ma vir my gegee het, ‘n Familie Bybel en ander mooi goedjies, dit bring soveel mooi herinneringe en lekker gevoelens wat mens met die sien daarvan weer terugvat na ‘n lekker en spesiale oomblik. Sulke mooi goedjies gee vir ons ‘n terugblik op iets mooi wat ons nie wil vergeet nie en soms wens ons weer kon hê, soms is dit iets waaruit ons ‘n les geleer het of waar iemand ‘n spesiale spoor in ons lewe gelaat het.

Is dit dan nie so dat ons ook so ons huwelike moet koester en oppas nie? Spesiaal in die kluis van ons harte moet sit waar ons mekaar oppas teen die storms van die lewe, waar ons in mekaar kan veilig voel. Ons vergeet soms om ons huweliksmaat en die mooi wat hy of sy vir ons beteken so mooi in ons hart te bêre soos ons ander dinge wat vir ons belangrik is bêre. Dit is ongelukkig so dat ons geneig is om die hartseer en moeilike tye eerder onthou wanneer ons reflekteer, maar ons moet doelbewus die mooi uit die skatkamers van ons harte en gedagtes gaan haal sodat ons ten spyte van moeilike of hartseer tye weer die goeie kwaliteite in mekaar kan onthou, kan soek en kan waardeer.

Niemand is perfek nie, dis ‘n feit, maar daarom het huweliksmaats die voordeel om altyd ‘n ware vriend in mekaar te kan hê waarop hulle moet kan vertrou, maak nie saak wat nie. Maak hierdie jaar die jaar van jou huwelik. Dit is tog die fondasie van die hele huis. Of dit nou baie goed gaan en of daar dalk iets is wat uitgesorteer moet word, maak nie saak nie. Voor die jaar te besig raak, voor die besige skedules inskop en ons soveel ander verantwoordelikhede ook weer het, begin vandag nog om die goeie te onthou en maak ‘n verskil in mekaar se lewens.

Wees daar vir mekaar. Tree in alles wat jy doen of se op met die beste belang van jou huweliksmaat en alles wat mooi is,  sal volg. Dis nie nodig vir groot verrassings, baie geld of uitermatige gebare nie. Dit gaan oor wat jy vir en van jou huweliksmaat sê en die tyd wat julle aan mekaar gee. Tyd is verniet en in ons huwelike een van die kosbaarste geskenke wat ons aan mekaar kan gee. Mag God jou huwelik hierdie jaar na nuwe hoogtes vat. Mag julle vrede, vreugde en geluk in mekaar hê, want dit is by mekaar waar ons moet veilig voel en saam in en uit God se hand moet leef.

Jesaja 54: 10: “Berge kan pad gee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet.”

Kom ons pas mekaar ook so mooi op soos God ook hier aan ons belowe.

Jesus-Liefde

Pierre & Lelanie

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Eksodus
God Se Vyf Vinger Plan
Die kerk Vir Vandag
Plasing No 0048
NGMindalore RichardsonLaan 32 Mindalore

Leave a Reply

Your email address will not be published.