Selfbeheersing

Galasiërs 5:22-23
“22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”

Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie. Dit is die vrug van selfbeheersing. Die Gees moet ons hiermee help, maar laat ons die Heilige Gees toe om sy werk in ons lewens te doen? Dis partymaal darem net te lekker om eers weer self die wiel te neem.

Die laaste vrug van die Gees gaan oor selfbeheersing. Hoeveel beheer het jy oor jouself? Wanneer ’n taxi voor jou inry, watter beheer het jy oor jou hande? Wanneer jou werkskollegas, of ’n lid van die familie iets doen of sê waarmee jy nie heeltemal saamstem nie, hoeveel beheer het jy oor jou tong?

Ek wil dit opsom deur te sê dit is wanneer jy beheer van jouself verloor.  Buite beheer klink nogal erg. Maar dit is presies die oorsaak wanneer ons soms die verkeerde dinge doen. Ons leef buite die beheer van die Heilige Gees. Jy sien as jy toelaat dat die Heilige Gees jou beheer sal jy nie ingee wanneer jy, jou jy weet wat wil strip nie. 

Weereens, Ons Here en Vader is so ‘n Gentleman dat Hy nie enige iets op ons afdwing nie maar laat ons toe om ons eie besluite te maak maar onthou, daar is altyd nagevolge. Hoeveel keer het jy al iets in woede gebreek, of gesê, of gedoen en dan na die tyd, wanneer jy bedaar het, moet jy die skade en nagevolge dra?

Ek persoonlik het nog baie timmerwerk nodig. Ek besef dat ons te gou onder die beheer van die Heilige Gees uitklim en self eers weer die beheer wil oorneem. Ongelukkig is die gevolge redelik katastrofies wanneer ons in beheer is van onsself. Ek besef ook dat wanneer ons, ons lewe vir God gegee het en die Gees in ons kom woon, ons voortdurend die beheer sal wil oorneem. Hierteen moet ons baklei. Ek besef ook dat as ek weer die Gees opsy gestoot het en beheer geneem het, ek my sondes moet bely en weer die beheer moet teruggee.

God se genade is so groot dat die Heilige Gees nie sal wegtrek nie. Hy wag totdat ek my fout agterkom en staan oophande en wag om die beheer van my lewe oor te neem. Elke keer.

Liefde groete 

Die Ontdekker

Sien ook Selfbeheersing – 12/2012  en Sement  10/2011
Plasing No 0165

Foto danksy Henryk Niestrój 

Leave a Reply

Your email address will not be published.