Maluti Mighty Men

Die naweek van 9 tot 11 September het ‘n groep van ons manne afgetoer Fouriesburg toe om deel te wees van die Maluti Mighty Men samekoms.
Met tipiese Vrystaatse Lente van warm in die dag en vrek koud in die nag is die vuur in ons harte weer aangesteek en het ons weereens besef hoe groot voorreg dit is om kind van God te wees. Die prentjie mooi Oos-Vrystaat met sy Sandsteenberge en goudgeel wintersgras
Die sprekers het gepraat oor:
Vrydag aand – “God wat Sien” – God is bewus van jou elke oomblik. Hy sien jou raak. Saterdag dagbreek – “God is by jou in alle omstandighede” (Ps 22,23);
Saterdag oggend – “Is Jesus werklik wie Hy sê Hy is?” (Joh 6:14 ev) Glo jy in Jesus omdat Hy wonderwerke doen, of glo jy in Jesus omdat Hy is wie Hy is.
Saterdag aand – “God vra alles” (Luk 14) Daar is God se evangelie waar God jou alles in jou lewe moet wees en daar is mense se evangelie waar jy kan kies waar God moet teenwoordig wees, solank jy net gemaklik is.
Sondag oggend – “Van Kondisie na Posisie” (2 Sam 9) Die verhaal van Mefiboset wat gestremd was en deur Dawid ‘n ereplek aan die tafel van die Koning gegee het. God wil jou uit jou kondisie haal en jou ‘n ere posisie aan Sy tafel gee. Die samesang onder leiding van Retief Burger en saamwees was werklik ’n fantastiese belewenis! Die kos was baie lekker en gelukkig was daar genoeg WARM KOFFIE om die koue te verdryf!
Dit was ‘n groot voorreg om as manne net weer saam te kon kuier en God te aanbid sonder om te worry oor wie jy is en waar jy vandaan kom en aan watter kerk jy behoort. Almal het net soos een groot familie by mekaar ingeval omdat ons een doel voor oë gehad het, naamlik om God te verheerlik.
Ons manne het ook kans gekry om die natuurlike watertonnels in die Maluti Berge te gaan ontdek. Daar in die mooi en ongerepte natuur, het ons net weer besef hoe Groot en Almagtig ons God is en hoe bevoorreg ons is om Sy kinders te kan wees!
Volgende jaar maak ons weer so!

Henning Mostert


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *