As gebou van God vier ons die Nagmaal

Joh 6:22-59

Joh 14:26: “en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”
Op Pinkster Sondag waar ons die uitstorting van die Heilige Gees vier, is vandag, met die Nagmaal, die klem op die Heilige Gees wat ons sal leer en ons sal herinner aan alles wat Jesus gesê het.
Dit Nagmaal is juis ook ‘n herinneringsmaaltyd waartydens ons terugdink aan Jesus se kruisiging en Jesus wat bereid was om mens te word sodat ons die ewige lewe kan ontvang.

Wat leer Jesus ons oor die Nagmaal in Joh 6:22-59:

V26 Hoekom soek ons na Jesus? Het hierdie mense na Jesus gesoek omdat hulle weer honger geword het en gehoop het hy gaan weer vir hulle brood en vis gee? Het Jesus vir hulle die voorsiener van fisiese behoeftes geword? As ek fisiese nood het, moet ek net na Jesus toe gaan en Hy sal voorsien.  Hy het dit mos die vorige dag gedoen en daarom kan hy dit mos nou weer doen.

Jesus stel dit vinnig reg. Ons moet Jesus soek omdat ons van die brood van die ewige lewe wil hê.  My pa se tafelgebed het altyd afgesluit met ‘Voed ons siele met die brood van die ewige lewe.”  Dit het my altyd gefassineer want ek het nie as kind dit verstaan nie. Maar dit is presies wat Jesus hier sê: ”Moenie net jou liggaam voet met die tydelike brood nie, sorg dat jy jou siel voed met die brood van die ewige lewe.”

Wat is die brood van die ewige lewe? V29 “wat God van julle verlang is om in Jesus te glo”. Dis die eerste geloofshappie wat ons moet neem!

V30 As ons maar net wou glo, maar ons wil mos altyd bewyse hê.  Die hele lewe gaan mos oor bewyse, as daar nie bewyse is nie dan kan dit nie so wees nie en vandag is daar soveel mense wat nie in Jesus glo nie, want die bewyse is nie vir hulle goed genoeg nie.  Net die vorige dag het Jesus die brood vermeerder en hulle was so beindruk met hom dat hulle hom sommer Koning wil maak (Joh 6:15) maar nou omdat Hy nie weer in hulle fisiese behoeftes wil voorsien nie, nou moet Hy eers weer ‘n wonderwerk doen voordat hulle verder sal glo. Hulle vergeet van gister maar onthou van die manna in die woestyn!  Daardie wonderwerk was nou regtig ‘n wonderwerk!

Klink dit nie maar bekend in ons eie lewens nie? God doen soveel wonderwerke in ons lewens, so onlangs soos gister, maar wanneer ons in Hom moet glo, dan wil ons eers nog bewyse hê.

Jesus gee vir ons die ware brood wat uit die Hemel kom.  Die brood wat ons siel kan voed met die Ewige Lewe!  Lekker kos is lekker en ons kan soveel moeite doen met kos voorbereidings en veral met poeding! Dit moet lekker lyk want ons eet met ons oë.  Dit moet lekker proe en dan rond ons nog die ete af met ‘n drinkdingetjie daarby wat die smaak kan komplimenteer.  Dan kan almal lekker saam kuier en die maaltyd geniet.

Ons het kos nodig om te lewe. Sonder kos gaan ons doodgaan! As ons soveel moeite doen met kos voorbereiding wat binne ‘n halfuur opge-eet is en na 5 ure is ons weer honger en dan begin die proses weer van voor!

Hoekom doen ons nie dieselfde moeite met die geestelike brood wat vir ons die ewige lewe kan gee nie?

Vandag se nagmaal kan ons as volg benader:

Eerstens: Jy is genooi!

Jy wat glo dat Jesus deur die Vader gestuur is. Dit is jou uitnodiging na die geestelike ete van vandag. Jesus is in opdrag van die Vader aarde toe gestuur om die verlosser van die mens te word.  Om die middelaar tussen God en mens te wees. Jesus was nie net ‘n goeie profeet of maar net ‘n goeie mens nie.  

Jesus was en is tot vandag toe, die Seun van God!

Tweedens: Met hierdie geestelike ete word brood en wyn voorgesit.

V51: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe.  En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe!”

Die brood (v35) Die brood is Jesus wat die lewe gee.  Wie na Hom toe kom sal noot weer honger kry nie.  Jesus se eerste preek was: Bekeer julle want die Koninkryk het naby gekom! Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is…

Jesus nooi ons uit om tot Hom te nader!

en die wyn op die tafel (v35) Wie in my glo sal nooit weer dors kry nie.

Geloof is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie.  Dis ‘n elke dag gebeurtenis soos wat ons verlede Sondag vir mekaar gesê het.  My dade getuig van my geloof en my geloof gaan oor tot my dade!

Derdens: Ons word versadig:

V37 “Elkeen wat die Vader vir My gee sal na My toe kom en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie!” Die Vader se wil is dat elkeen wat Jesus sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê en dat Jesus hom op die laaste dag sal laat opstaan!

Van kos word ons versadig en ons kan lewe, van die geestelike kos word ons versadig en ons ontvang die ewige lewe!

Vierdens: Ons moet die keuse maak!

Ons almal is genooide gaste. Jesus het vir ons die maaltyd voorgesit! Die Fariseers het saam met  almal die vorige dag die vermeerdering van die brood gesien en ek is seker hulle het net so lekker saam ge-eet! Maar nou nooi Jesus ons almal uit na die ware ewige maaltyd! Nou wil die Fariseërs hul hakke inkap en teen Jesus opstaan!

Wanneer die wonderwerk hulle pas is hulle baie gaande daaroor, maar wanneer dit iets van hulle self vra, dan wil hulle daarteen skop!

v42 wil hulle nie die uitnodiging aanvaar nie: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie. Ons ken mos sy Pa en ma. Hoe kan Jy nou sê: “Ek kom uit die Hemel?”.  Hoe kan Jesus sê Hy is deur die Hemelse Vader gestuur?  Hy is dan net ‘n gewone mens soos ons!

V52: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

Slot

Die Tafel is voorberei. Die geestelike ete is gereed!

Jesus se instellingswoorde vir die Nagmaal is v 53-56. Hierdie woorde is die Kern van die Nagmaal

As ek en jy nie die liggaam van Jesus eet en Sy bloed drink nie, het ons nie die ewige lewe nie! Met ander woorde, as ek nie na Jesus toe gaan en my lewe as ‘n lewende en heilige offer vir hom gee en in Hom glo nie, het ek nie die ewige lewe nie! Wanneer ons hierdie brood en wyn gebruik – (v 56) Bly ek in Jesus en Hy bly in my!

En ons sal versadig word en Lewe omdat die (v57) Lewende Vader vir Jesus gestuur het en Jesus deur die Vader lewe, so sal ek en jy wat na Jesus toe kom en in Hom glo deur Jesus lewe!

Joh 6:63 – “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie” Dan sê Jesus, “wat Ek vir julle gesê het kom van die Gees en gee lewe!”

Op Pinkster dag moet ons onsself oopstel vir die werking van die Gees!

V66: Hieroor het baie dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met hom gegaan nie! – Toe vra Jesus vir die 12: “Wil julle nie ook weggaan nie?”

Dan Petrus se belydenis: v68 “Here U het die woorde wat ewige lewe gee, en ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

Wat kies jy om vandag te doen?  Is hierdie woorde vir jou te erg? Of is jy bereid om Jesus te volg?

Amen

Soli Deo Gloria

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
God Is Met Mindalore Oppad
Tyd Saam Met God – Deel 1
Dissipline
Plasing No 0142
NGMindalore RichardsonLaan 32 Mindalore

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *