Ek en my Huis

Laas maand het ons gesels oor hoe om jou kind tot geloof te lei. In die artikel het ek ook vlugtig verwys na die vers “..maar ek, ek en my gesin, ons sal die Here dien” (Joshua 24:15 AOV).  Die maand wil ek bietjie meer gesels oor die spesifieke vers en die impak daarvan op die hele gesin.

Kom ons begin by die probleem. In Mattheus 6:24 staan daar “Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.”

Die probleem vandag is dat ons ons nie meer graag wil laat voorsê nie. Dit is so erg dat ons ons dikwels ook nie deur die Here laat voorsê nie. Die rede is eenvoudig dat ons God nie eerste stel in ons lewens nie. Nou kan julle vra, maar hoe kan dit waar wees? Die Skrif leer ons juis dit in Spreuke 21:2  “In sy eie oë is alles wat ‘n mens doen, reg, maar die Here toets die gesindheid.”

Elkeen van ons vind gewoonlik moeilik iets fout met jouself, wat jy doen, en hoekom jy dit doen. Daarom dat die teks uit Spreuke dit so raak stel. Daarom is dit ook nie so maklik om jouself voor God te verootmoedig nie. Daarom is dit so maklik om dalk onwetend afgode in jou lewe te hê.

In Joshua 23:6-11 lees ons dat Joshua die leiers, die hoofde, die regters en die ampsdraers vermaan het om God alleen te dien. Daarom wil ek dus ook vandag by Josua aansluit en ons almal vermaan om slegs God te dien. Net soos wat Elia die volk voor ‘n keuse gestel het in 1 Konings 18:21 “As die Here God is, volg Hom, maar as dit Baäl is, volg hom.”

Daarom wil ek graag glo dat ons almal in ons harte sal sê: “Ek en my huis, ons sal die Here dien!” Weereens is dit maklik om dit met die tong te bely, maar geheel en al ‘n ander ding om ten uitvoer te bring. As jy dit belowe het hoe doen jy dit?

As man, as hoof van my huis (vrou & kinders). Vra jouself die volgende:

–  Hoe dien ek die Here?
–  Hoe stel ek ‘n voorbeeld?
–  Hoe lei ek my huisgesin in die godsdiens?
–  Hou ek huisgodsdiens?
– Hou ek persoonlike godsdiens?

As vrou, as moeder en rots van die huis, antwoord die volgende:

– Hoe stel ek ‘n voorbeeld vir my gesin?
–  Hou ek persoonlike godsdiens?
– Lees ek vir my kleuters voordat hulle gaan slaap?

As kind, antwoord die volgende:

– Lees ek persoonlik Bybel?
– Bid ek persoonlik?
– Leef ek my christenskap uit, by die huis, by die skool, in die katkisasie of tussen my maats?

Onthou net, as jy vir die Here kies, is dit ‘n keuse wat met sigbare dade die dien van die Here gepaard gaan, of nie?

Maar daar is ook gevare om te sê ek sal die Here dien.

Ons lees in Josua 24:19 (AOV) “Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die Here nie dien nie, want Hy is ‘n heilige God, Hy is ‘n jaloerse God; Hy sal julle oortreding en julle sondes nie vergewe nie”

Die feit dat God ‘n jaloerse God is beteken dat Hy

–  ONVERDEELDE TROU van ons vereis.

–  God moet eerste wees in ons lewens.

–  Hy alleen moet gedien word.

–  Daar mag nie nog ander gode of afgode in ons harte wees nie.

Hiermee wil ek net sê dat elke gelowige volkome aan God toegewy wees. Wie enigiets of enigiemand, geld, broers of ouers, bo die Here stel, is Hom nie werd nie. ‘n Mens moet ontslae raak van alles wat jou verhouding met Hom belemmer, byvoorbeeld geldgierigheid, verkeerde prioriteite, jaloesie en vooroordele. Maak vandag jou keuse biddend en kom jy nog die volgende beloftes na………

-Toe jy belydenis van geloof afgelê het,
-Toe jy trou beloof het aan jou man of vrou op jul huwelik,
-Toe jy jou kinders laat doop het,
-Toe jy as diaken of ouderling or leraar bevestig is,
-Kom jy dit nog opreg en ter harte na?

Mag God ons seën en lei deur die Heilige Gees in ons besluit vir Hom.

Groete

Oom Jan

Kuierkonsert

Ns. Van die jeugkommissie se kant wil ons graag net weer een en almal bedank vir jul aandeel om die 2012 kuierkonsert so ’n reuse sukses te maak. Julle ondersteuning het werklik ’n verskil gemaak. 

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Aanslag op die jeug
Ondankbaarheid
Psalms – 9 Maniere van Aanbidding en Lofprysing
Plasing No 0162
NGMindalore RichardsonLaan 32 Mindalore

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *