DIE BALK IN JOU OOG

Ek hoor nou die dag een persoon vir ‘n ander sê: ” Hou tog net op om fout te vind!”
Sjoe ons is darem altyd so geneig om fout te vind. Om te fit oor dinge.
Ek het gaan kyk wat verskillende Bybelvertalings daaroor te sê het.
Die boodskap stel dit so -Matteus 7 v 1 “ Moenie vitterig wees nie. Hou op om mense links en regs te oordeel sonder dat julle vooraf eers vasgestel het wat die regte feite is. As julle dit doen, gaan God presies dieselfde met julle doen.”

Die NLV vertaling gaan so – ” Hou op oordeel oor ander uit  te spreek. Dan sal God ook nie ‘n oordeel oor julle uitspreek nie.”  1983 Vertaling – ” Moenie oordeel sodat julle nie geoordeel word nie; met dieselfde maat waarmee julle oor ander oordeel sal julle geoordeel word en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet sal julle gemeet word.”
 
Die Kinderbybel sê dit nogal oulik ( die Bybel@kinders.) ” Moenie so maklik sê jou maats of ander mense doen lelike dinge nie. Gaan kyk eers wat die waarheid is. Anders gaan die Here net so maklik besluit jy doen lelike dinge.”

Ons ken so goed die verhaal van haal eers die balk uit jou eie oog voordat jy die splinter uit iemand anders se oog haal, maar wat doen ons: ONS VIND FOUT nie net met wat die mens doen nie, maar ook met wie hy of sy is. Ons het geen reg om mense te oordeel nie. Ons is almal deur God gemaak en Hy is ons almal se Vader. As ons dan mekaar beledig en altyd fout vind is dit ‘n klap in God se gesig. God maak nie “Junk” nie. God het die mens as Sy verteenwoordiger gemaak . ( Genesis 1 v 27 )

Romeine 14 v 22 ” Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat onderlinge vrede en opbou bevorder.” 
 
Die Woord leer ons om mekaar by te staan en te ondersteun, nie om oordeel uit te spreek nie. Romeine 15 v 7 ” Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.”
 
1 Korintiërs 14 v 26b ” Sorg dat alles tot opbou van die gemeente verloop.”  Ons wat Sy kinders is, is almal deel van een liggaam. So maak nie saak aan watter gemeente jy behoort nie.

As jy aan God behoort en glo dat Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is, het JY die verantwoordelikheid om Sy gemeente, Sy koninkryk uit te brei en op te bou! Mag ons elkeen besef dat God niemand voortrek nie.Ons is almal voor Hom gelyk en Hy is die Een wat regverdig oordeel.

Efesiërs 6 v 9b ” Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.” My Liewe boeties en sussies ” Mag God die Vader en die Here Jesus Christus vrede, liefde en geloof vir ons broers en susters gee.” NLV Efesië 6 v 23

Mooi praat!

Groete,  

Duimpie

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
My Baadjie of My Vriendskap
Kan Julle Glo
Aanslag op die jeug
Meer werd as Mossies
Plasing No 0171
NGMindalore RichardsonLaan 32 Mindalore

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *