As gebou van God, glo ons in die opstanding na die dood Luk 20:27-40

Advent Sondag Een – HOOP

Vandag is die eerste Sondag van Advent en die fokus is op HOOP.

Hoop op die aarde

  1. Hoop op die Verlosser

Die Geboorte van Jesus het hoop gebring vir die mense.  Die Engele het aangekondig dat dit juis Hy is wat die Verlosser vir die wêreld gaan wees, maar soos vandag ook nog, is dit mense se persepsie van wie Jesus werklik is, en waarom Hy mens geword het, wat veroorsaak het dat Jesus se geboorte vir party mense hoop gebring het, maar vir party mense ‘n hooplose situasie geword het.

Luk 24:21 vertel die Emmaus gangers dat hulle so gehoop het dat dit Hy is wat Israel sou verlos, maar nou is dit boonop die derde dag na die dag Jesus se kruisiging is. Kersfees is ‘n fees van Hoop vir elkeen wat ‘n verwagting het dat Jesus die enigste Hoop vir die verlore gaande wêreld is, maar vir die wat met ‘n verkeerde persepsie van Jesus Kersfees vier, is dit maar net nog ‘n goeie en lekker vakansiedag en kan hulle ook soos die Emmaus gangers teleurgesteld wees in Jesus.  Soos Efes 2:12 dit stel:  “In die tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af, sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamgaan, sonder hoop en sonder God in die wêreld.”

  • Ons moet vashou aan hoop

Rom 5:1-5 Kersfees is die tyd van hoop waartydens ons in herinnering roep dat Jesus die Vrede Vors is wat vrede tussen ons en God gebring het. Die verhouding tussen ons en God is herstel en daarom het ons ‘n nuwe hoop in ons lewens.  Sonder Jesus leef ons in wanhoop, maar met Jesus het ons hoop omdat ons deel het aan die heerlikheid van God.  Hierdie heerlikheid bring ons elke dag tot die besef dat vandag ‘n dag van hoop is. 

Kersfees as fees van hoop, dra ons deur tye van swaarkry. Kersfees is die tyd van die jaar wat mense net bietjie vergeet van die jaar se swaar en laste.  Dis juis met Kerstyd wat mense weer na mekaar uitreik om mekaar te bemoedig en ondersteun. 

Dis in hierdie swaarkry tyd wat ons mekaar ondersteun om te Volhard en nie moet op te gee nie, om vas te hou aan die mooi wat daar nog in die lewe is. Soos wat ons Volhard met ons oog gevestig op Jesus soos wat Hebr 12 vir ons sê “kweek dit by ons egtheid van geloof.”

Hoe meer ons Volhard, hoe meer besef ons waaroor die lewe werklik gaan, en hoe meer word ons geloof gesnoei van allerhande aangroeisels en kom die egte geloof na vore.

Wanneer ons geloof eg is en ons lewe om Jesus gevorm word, dan kry ons hoop.

Hoop wanneer ander nie meer hoop het nie.  Hoop omdat God se liefde in ons harte is, omdat die Heilige Gees in ons woon.  Ons sien dinge ander, ons sien ‘n toekoms, ons het ‘n verwagting, want met God in ons harte is daar NO LIMITS!  Met God aan die stuur van ons lewens is daar hoop!

Die wêreld is op hierdie stadium in so ‘n hooplose en hopelose situasie – Kersfees kom herinner ons net dat al is daar geen hoop in die wêreld oor nie, by God is daar verseker HOOP.

Hoop vir die ewige lewe

  1. Hoop op die opstanding

Kersfees as fees van hoop herinner ons ook aan die opstanding uit die dood. Dit laat ons verder kyk as net die lewe hier op aarde.  Jesus is ons hoop vir vandag en vir more, maar Jesus is ook ons bron van hoop vir die lewe na die dood.  Jesus leer ons in Luk 20:36 dat na die dood ons nie meer sal sterwe nie, ons sal soos die engele wees.  Ons sal meer wees as engele, ons sal kinders van God wees, omdat ons uit die dood opgestaan het. Daarom kan ons hierdie kersfees wanneer ons die engeltjie aan die boom sit, dink aan hierdie teksvers om ons hoop te gee vir ‘n opstanding uit die dood.  Kersfees herinner ons daaraan dat God nie ‘n God van dooies is nie, maar ‘n God van die lewendes.

Daarom glo ons as gebou van God in die opstanding na die dood.  Daarom is Kersfees vir ons ‘n fees van Hoop om saam met God en die menigte van gelowiges uit die dood op te staan en die ewige lewe te mag hê!

Dus bring 1 Kor 15:21 vir ons hoop, deur dat Jesus as eersteling uit die dood opgewek is, en dat deur hom daar vir ons as mense opstanding uit die dood gekom het.

Jesus se vir ons dat Hy “die opstanding en die lewe is, en wie in Hom glo sal lewe al sterwe hy ook! En elkeen wat lewe en in Jesus glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.” (Joh 11:25 en 26)

  • Hoop op die wederkoms

Kersfees is die fees van hoop op die wederkoms omdat dit ons elke keer daaraan herinner dat hierdie Jesus wat mens geword het gekruisig is, gesterf het en begrawe is, en dat Hy opgestaan het uit die dood.  Verder weer ons ook dat Jesus opgevaar het na die Hemel en dat die Engele vir ons in Hand 1:11 dat “hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, net so sal terugkom soos wat hulle Hom sien opgaan het.”

Kersfees laat ons weer besef dat ons burgers van die Hemel is soos wat Fil 3:20 dit stel en dat ons Jesus se terugkoms verwag vanuit die Hemel.

In 1 Petr 1:13 Word ons aangeraai om “verstandelik wakker en nugter te wees en ons hoop volkome op die genade wat ons deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus.” Die genade waar God sal aankondig wie Sy kinders is. 

Hierdie hoop dat Jesus oppad is en dat ons gereed moet wees vir Sy wederkoms, moet in hierdie Kerstyd vir ons ‘n dryfveer wees om ons verhouding met Hom reg te kry en te verdiep!

Daarom moet ons luister wat Petrus in 1 Petr 1:15 vir ons sê:  “Onthou!  Soos wat Jesus oor wie Kersfees gaan en wat elkeen van ons tot Sy diens geroep het heilig is, so moet elkeen van ons in ons hele lewenswandel heilig wees!”   God het tog immers gesê:  “Wees Heilig, want Ek is heilig”. (Lev 11:44-45)

Die Lied Stille Nag, Heilige Nag, moet ons aan hierdie deel van Kersfees herinner sodat ons wat Kersfees vier as ‘n Fees van Hoop, deel van God se heilige oomblik kan word.

Slot:

As gebou van God, vier ons Kersfees as ‘n fees van hoop.  Hoop omdat ons nie ten gronde getrek word deur die swaarkry en wanpersepsies van die wêreld nie, maar omdat ons opkyk na Jesus se opstanding uit die dood, en weet “dat niks ons van die liefde van God kan skei nie” (Rom 8:-37-39.) – Amen

Soli Deo Gloria

Nog Sielskos Vir Die Lewensreis
Worrying About Tomorrow
Wat Word Van Die Wereld?
Jesus – Koning van die Konings
Happy Pilletjies
Wie Dink Jy is Jy?
As Gebou van God het ons die ewige lewe
Ken God My?
Plasing No 0344

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *