Wikkel Jou Tone

Wat moet jy doen as dit voel of jy nie meer kan voort gaan nie? Ons kan al die mooi Bybel versies oproep wat vir ons verduidelik hoe ons nie alleen is nie en hoe God ons sal dra deur die moeilike tye. Ons hoor almal sê dat die moeilike tyd in ons lewe daar is om ons karakter te bou en soms laat God dit toe om ons op te rig vir iets baie groter. Al hierdie dinge is waar maar as jy vasgevang is in ‘n diepe donker gat is jy nie altyd lus om die mooi goedjies te hoor nie, maar eerder iets wat jy prakties kan toepas om jou te help of beter te laat voel. Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, soms kan die bemoediging van ‘n geliefde of vreemdeling jou hele uitkyk laat verander.

Ek wil graag oor die verandering praat en ‘n paar praktiese stappe wat gevolg kan word. Alles in bestaan het begin met ‘n beweging. Toe God die heelal geskape het, het Hy dit in bestaan gebring deur te spreek. So selfs God het alles begin deur ‘n beweging.

Nou is dit jou beurt. Begin deur om op te staan. As jy nie die krag of lus het om op te staan nie begin deur om jou tone te beweeg. Ja ek weet dit klink dalk snaaks maar deur om jou tone te beweeg het jy alreeds jou beweging in werking gesit. Noudat jy jou tone beweeg het kan jy maar net sowel opstaan. (Fisies en geestelik)

Reiniging. Neem ‘n lekker stort of bad. Trek netjies en gemaklik aan. Drink genoeg water en berei iets gesond voor om te eet. Wanneer ‘n mens in die donker depressiewe gat vas gevang is, is jou eetlus gewoonlik nie wat dit veronderstel is om te wees nie. Jou liggaam is ‘n goed uitgewerkte masjien en sonder die regte voeding gaan hy nie optimaal funksioneer nie. Selfs al beteken dit dat jy jouself moet forseer om dit te doen.

Musiek. Sit jou gunsteling lof en aanbidding musiek aan. Sit dit sommer hard. Net soos God se stem alles tot Uit God se Skatkamer bestaan gebring het, het klank golwe ‘n uitwerking op ons en op die Geestelike ryk. Deur om die lug met lof en aanbidding te vul gaan die atmosfeer alreeds begin verander.

Joernaal. skryf neer. Skryf vir God ‘n brief waarin jy jou hartseer, woede, pyn of moedeloosheid in detail bespreek. Deur om dit neer te skryf gee dit jou tyd om jou denke te formuleer en soms kan jy jouself baie beter uitdruk deur skrif. Moenie terug hou nie, stort jou hart uit. In die meeste gevalle is dit alreeds deel van jou Herstel proses want om dit uit te kry en daaroor te kan praat, bring genesing.

Praat met God. Vat dit na jou Vader, jy kan niks na God toe bring wat te groot vir Hom is nie. Spandeer tyd saam met Hom, nie jou afgerammelde tyd nie maar kosbare gefokusde alleen tyd. Gaan in diepe gesprek in met God. Moenie bid nie maar gaan praat met Hom soos jy met ‘n vriend of geliefde sou praat. Gee kans, laat toe dat God met jou kommunikeer. Moenie net Amen en opspring en weer besig raak nie. Spandeer tyd in diepe konneksie en in God se teenwoordigheid. Moenie dat jou gedagtes dwaal nie maar mediteer op slegs God.

In die begin het ek genoem dat mens nie altyd die mooi teksverse wil hoor nie maar hierdie is nie net ‘n mooi vers nie maar ‘n belofte wat Jesus self aan ons gemaak het. Matt 11:28 – 29 “Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”

Ek wil jou graag los met die volgende gebed;

Jesus, ek het U nodig. Ek is moeg en die laste is groot. Ek is nie seker hoeveel meer ek kan verduur nie. Sal U help om hierdie laste ‘n rukkie te dra? Kan ek na U toe kom en langs U loop? Ek het U rus nodig vir my siel, U troos vir my hart. Want ek weet dat U saggeaard en liefdevol, goedhartig en medelydend is. U sal my lei en my die weg wys. U sal die las dra en my siel met rus in U vul. Dankie vir hoe lief jy my het. Amen.

Liefde Groete
Die Ontdekker.

Nog Sielskos vir Die Lewens Pad
Psalm 121 – Nader tot God en kyk op
Its About Time
Bou U Legkaart
Tien jaar saam met Mindalore
Christenskap is nie kinderspeletjies nie
Plasing No 0044


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *